Kategorie 5-sikloon Mocha tref Mianmar

Inwoners vlug voor sikloon Mocha in ʼn byna leë straat in Kyauktaw in Rakhine, Mianmar (14 Mei 2023) (Foto: Sai Aung Main/AFP)

Sikloon Mocha het Sondag die Bangladesj-Mianmar-grens bereik, het Bangladesj se weerkantoor gesê. Bome is ontwortel en aanhoudende reën val oor ʼn gebied waar honderde duisende Rohingia-vlugtelinge woon.

Met windsnelhede van tot 195 km/h het Mocha reeds tussen Cox’s Bazar, waar byna 1 miljoen Rohingia-vlugtelinge in kampe woon wat grootliks uit papierdun skuilings bestaan, en Sittwe in Mianmar verwoesting gesaai.

Die Amerikaanse gemeenskaplike tifoonwaarskuwingsentrum het vroeër gesê Mocha het windsnelhede van tot 140 knope, of 259 km/h, wat gelykstaande is aan ʼn kategorie 5-orkaan op die Saffir-Simpson-orkaanwindskaal.

“Ons kamphuise, wat van bamboes en seildoek gebou is, kan in sagte, ligte wind weggewaai word,” het Mohammad Sayed (28) aan AFP vanuit die Nayapara-vlugtelingskamp in Bangladesj gesê. “Die skole, wat as sikloonskuilings aangewys is, is nie sterk skuilings wat die wind van ʼn sikloon kan weerstaan nie. Ons is bang.”

“Die wind word al hoe sterker,” het reddingswerker Kyaw Kyaw Khaing vroeër aan AFP vanuit Mianmar se Pauktaw gesê, ongeveer 25 kilometer van Sittwe. Volgens hom het ongeveer 3 000 mense kom skuiling soek.

“Ons het genoeg kos vir een of twee etes aan die mense gegee wat na tydelike skuilings gevlug het. Ek dink nie ons sal vandag, weens die weer, kos kan stuur nie.”

Duisende mense het Sittwe Saterdag in vragmotors, motors en tuk-tuks verlaat en na hoër grond gevlug toe meteoroloë waarskuwings uitgestuur het oor ʼn stormvloed van tot 3,5 meter.

Volgens ‘n mediaprofiel deur die junta-owerhede in Rakhine het bome op ʼn pad naby Sittwe omgeval.

“Dit gaan nie goed nie. Ons het nie kos en ander goedere gebring om mee te kook nie,” het Maung Win (57) gesê, wat die nag in ʼn skuiling in Kyauktaw deurgebring het. “Ons kan net wag om kos van mense se skenkings te kry.”

Owerhede in Bangladesj het 190 000 mense in Cox’s Bazar en byna 100 000 in Chittagong na veiligheid geskuif, het afdelingskommissaris Aminur Rahman laat Saterdag aan AFP gesê.

Die reën en wind het ook gewoed in Mianmar se handelsentrum Yangon, ongeveer 500 km daarvandaan, het inwoners Sondag gesê.

Groot noodgeval

Die Rooi Kruis in Mianmar het gesê dat hy voorbereidings tref vir ʼn “groot noodgeval”.

Owerhede in Bangladesj het die Rohingia-vlugtelinge verbied om betonhuise te bou, uit vrees dat dit hulle kan aanspoor om permanent te vestig eerder as om terug te keer na Mianmar, van waar hulle vyf jaar gelede gevlug het ná gewelddadige militêre optrede.

Die kampe is oor die algemeen effe in die binneland, maar die meeste daarvan is op heuwels gebou, wat hulle blootstel aan die gevaar van grondverskuiwings.

Voorspellers verwag dat die sikloon ʼn stortvloed reën sal bring, wat grondstortings kan veroorsaak.

“Die wind het vanoggend omstreeks 08:30 begin waai en dit word al hoe sterker,” het ʼn Rohingia-gemeenskapsleier in ʼn verplasingkamp in Mianmar se Kyaukphyu aan AFP gesê. “ʼn Huis in die kamp het inmekaar gestort en die dak van ʼn skuiling, wat deur die Verenigde Nasies se agentskap vir vlugtelinge (UNHCR) gebou is, het weggewaai.”

Honderde mense het ook van Bangladesj se Saint Martin-eiland, ʼn plaaslike vakansieoord reg in die storm se pad, gevlug, terwyl duisende na sikloonskuilings op die koraaldagsoom beweeg het.

Diegene wat agtergebly het, vrees die naderende storm.

“Ons is paniekerig omdat ons nie genoeg sikloonskuilings hier het nie,” het Jahangir Sarwar (23), ʼn inwoner van Saint Martin, telefonies aan AFP gesê. “Ons het die administrateurs baie keer gevra dat almal na ʼn veilige plek na die vastelandse Teknaf ontruim moet word, maar niks het gebeur nie.”

Sikloon Mocha is die kragtigste storm wat Bangladesj tref sedert sikloon Sidr, het Azizur Rahman, die hoof van Bangladesj se meteorologiese departement, aan AFP gesê.

Sidr het Bangladesj se suidelike kus in November 2007 getref en die lewens van meer as 3 000 mense geëis. Miljarde dollar skade is aangerig.

Bedrywighede is opgeskort by Bangladesj se grootste hawe, Chittagong en bootvervoer en visvang is ook opgeskort.

Sikloon Nargis het Mianmar se Irrawaddy Delta in 2008 getref. Minstens 138 000 mense is oorlede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.