Kind skiet pa om gesin te beskerm  

Die huis in Pennsilvanië waar ‘n jong seun sy pa glo uit noodweer doodgeskiet het. (Foto: Google Earth / Fox News)

ʼn Voorlopige ondersoek na ʼn voorval waarin ʼn Amerikaanse seun sy pa doodgeskiet het, dui daarop dat die kind uit noodweer opgetree het.

Owerhede sê die minderjarige se optrede het waarskynlik sy eie lewe asook dié van sy ma en suster gered. Die kind se naam en ouderdom is nie bekend nie.

Fox News berig dat die tragiese voorval op 7 Januarie in die Lower Mahanoy Township in Pennsilvanië plaasgevind het.

Luidens ʼn polisieverslag het geweld uitgebreek toe die oorledene, Tracey Adams (47), in ʼn verbale en fisieke argument met sy vrou en hul jong dogter betrokke geraak het.

Die vrou en kind het gevlug en by Adams se stiefdogter, Brandi Hauck (31), se huis gaan skuil. Adams se seun was reeds by dié huis.

ʼn Gewapende Adams het die vrou en meisie agternagesit en Hauck deur haar voordeur doodgeskiet toe sy geweier het om hom (Adams) in die huis te laat.

Adams het die huis betree en glo luidkeels aangekondig dat hy almal in die huis gaan doodgeskiet. Sy vrou en twee jongs kinders was in dié stadium in die huis.

Volgens owerhede het die seun ʼn vuurwapen bekom wat in dié huis was en voor sy ma en suster ingetree om hulle teen Adams te beskerm.

Hy het na bewering losgebrand toe Adams op hulle afgestorm het. Adams is op die toneel dood verklaar.

Geen strafregtelike klagte is teen die kind aanhangig gemaak nie, aangesien ʼn voorlopige ondersoek daarop dui dat die kind uit selfverdediging opgetree het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.