Klopjagte teiken Peru se president

Pres. Dina Boluarte van Peru (Foto: JOSH EDELSON/AFP)

Ses Peruaanse kabinetsministers het Maandag bedank te midde van ’n ondersoek na hoe president Dina Boluarte verskeie Rolex-horlosies bekom het.

Victor Torres, minister van binnelandse sake, het eerste bedank, enkele dae nadat die polisie onder sy bevel op die president se huis en kantoor toegeslaan en dit deursoek het. Vyf ander ministers het ure later midde die Rolexgate-skandaal bedank.

Die regering het nie die bedankings verduidelik nie, maar dit kom enkele dae voor die beplande inhuldiging van die nuwe premier, Gustavo Adrianzen, en sy kabinet.

Boluarte het Maandagaand ses nuwe ministers ingehuldig om diegene wat bedank het, te vervang.

Torres het ná ’n kabinetsvergadering gesê hy tree om persoonlike redes uit. Sy bedanking word egter algemeen beskou as ʼn straf vir die klopjagte wat die president geteiken het.

Peruaanse politiek is baie onstuimig en die land het die afgelope agt jaar ses verskillende presidente gehad.

Daar is in Maart in ’n nuusprogram onthul dat Boluarte verskeie duur Rolex-horlosies besit en dit is nie duidelik hoe sy dit bekom het nie. Sy verdien sowat $55 000 per jaar.

Boluarte (61) het nie bekend gemaak hoe sy die horlosies bekom het nie, behalwe om te sê die horlosies is die vrug van ’n lewe van harde werk.

Sy is nou die teiken van ’n korrupsie-ondersoek om vas te stel of sy haarself onwettig verryk het sedert sy in Desember 2022 aan bewind gekom het en omdat sy versuim het om die horlosies as deel van haar bates te verklaar.

Boluarte moet Vrydag ’n formele verklaring aan ondersoekers gee en is opdrag gegee om enige Rolex-horlosies in haar besit saam te bring wanneer sy na daardie vergadering gaan.

Daar is geen horlosies gevind tydens die dramatiese klopjagte wat Vrydagaand tot Saterdag uitgevoer is nie.

Boluarte het aan bewind gekom nadat die destydse president Pedro Castillo probeer het om die kongres te ontbind en deur dekreet te regeer, wat gelei het tot sy inhegtenisneming en gewelddadige betogings. As sy in die Rolex-saak aangekla word, kan ’n verhoor eers plaasvind nadat haar termyn in Julie 2026 ten einde geloop het of indien sy in ʼn staat van beskuldiging geplaas word, aldus die grondwet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Hennie Biebouw ·

Marxiste bly darem maar so lief vir die “bling bling” wat deur Westerse kapitalisme geproduseer word…dis nou dieselfde kapitalisme wat hul hand en tand beveg…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.