Koronavirus: F1-wedrenne uitgestel

Argieffoto (17 November 2019) (Foto: AP Photo/Nelson Antoine)

Die Formule Een-wedrenne in Bahrain en Viëtnam is uitgestel in die lig van die uitbreking van die nuwe koronavirus, het organiseerders gesê.

Die besluit volg ná Sondag se Australiese Grand Prix uitgestel is. Die wedren wat op 19 April in Sjanghai sou plaasvind, is reeds op 12 Maart uitgestel.

Formule 1 en die bestuursliggaam, die FIA, het gesê hulle “verwag” nou dat die 2020 seisoen in Mei sal begin, maar dit sal hersien word.

Die organiseerders het in ʼn gesamentlike verklaring met F1, die FIA en betrokke regerings, gesê die besluit is geneem “om die gesondheid en veiligheid van die reisende personeel, kampioenskapdeelnemers en aanhangers te beskerm”. “Dit bly ons primêre fokus,” lui die verklaring.

Die wedrenne sou onderskeidelik tussen 20 – 22 Maart in Bahrain en 3 – 5 April in Viëtnam plaasgevind het.

“Moontlike alternatiewe datums sal bepaal word,” het FIA gesê.

Die seisoen sal na verwagting op 3 Mei by die Zandvoort-baan buite Amsterdam in Nederland begin. “Gegewe die skerp toename in Covid-19-gevalle in Europa die afgelope paar dae, sal dit egter gereeld hersien word.”

Meer as 128 000 gevalle en 4 700 sterftes is reeds wêreldwyd aangemeld. Meeste mense herstel vinnig van die virus ná ligte of matige simptome soos koors en hoes. Ouer volwassenes en persone met bestaande gesondheidsprobleme kan egter erger simptome of selfs longontsteking opdoen. Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie herstel persone met matige simptome binne ongeveer twee weke.

Die Australiese Grand Prix is uitgestel toe McLaren onttrek het ná een van sy spanmaats positief getoets het vir Covid-19.

Selfs voor die kansellasie aangekondig is, het wêreldkampioen Lewis Hamilton se Mercedes-span die FIA en F1 skriftelik versoek om die wedren te kanselleer en het reeds met voorbereiding begin om te vertrek.

Die betrokke persoon van die McLaren-span en 14 ander van sy kollegas is vir 14 dae in kwarantyn geplaas in ʼn hotel in Melbourne.

Lede van die Haas-span was in isolasie, maar is later ontslaan toe hulle toetse negatief was.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Elsa ·

Ai. Julle gaan min wedrenne hê the hierdie jaar. Indien enige

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.