Kuiken vir wêreld se oudste wilde voël

Wisdom en haar nuwe kuiken. (Foto: USFWS)

ʼn Albatros genaamd Wisdom, die wêreld se oudste wilde geringde voël, het ʼn kuiken ryker geword.

Wisdom is 70 jaar oud en het in Februarie dié nuweling op die Widway-atol, ʼn onbewoonde en afgeleë eiland wat deel van die VSA in die noordelike Stille Oseaan vorm, verwelkom.

Die Amerikaanse vis-en-wildlewediens sê miljoene albatrosse keer jaarliks in Oktober na hul neste op die Midway-atol terug en herenig met dieselfde maat in die wêreld se groot kolonie albatrosse.

Wisdom en haar maat, Akeakamai, maak sedert minstens 2012 – toe bioloë Akeakamai die eerste keer gering het – saam kuikens groot.

“Op minstens 70 glo ons Wisdom het ander maats ook al gehad,” sê dr. Beth Flint, verbonde aan die diens.

“Hoewel albatrosse lewenslank dieselfde maat behou, kan hulle nuwe maats soek indien nodig – as hulle byvoorbeeld die eerste maat oorleef.”

Bioloë het Wisdom in 1956 die eerste keer geïdentifiseer en gering, hoewel die heel eerste albatros reeds in 1936 op die eiland gering is. Tot dusver is meer as 275 000 albatrosse in die gebied gering en deur huidige en geskiedkundige data te gebruik kan bioloë ingeligte besluite neem om te verseker die seevoëls se habitat bly behoue.

Die albatros is reeds in 1956 gering. Sy is vermoedelik minstens 70 jaar oud. (Foto: USFWS)

Albatrosse lê nie noodwendig elke jaar eiers nie en indien hulle wél broei, is daar gewoonlik net een eier. Elke kuiken wat tot volwassenheid groei, maak dus ʼn verskil aan die toekoms van die bevolking.

Bioloë raam dat Wisdom in haar leeftyd al tussen 30 en 36 kuikens gehad het. In 2018 het bioloë die kuiken gesien wat in 2011 uitgebroei is – net ʼn klein entjie van waar haar huidige nes is. Tallose geslagte albatrosse het jaarliks dieselfde familiereünie.

Die meeste kuikens op die Midway-atol broei tussen Januarie en Februarie uit – na sowat 65 dae.

Wisdom het haar eier dus iewers teen die einde van November gelê.

Nadat sy see toe is om na kos te gaan soek, het Akeakamai die broeipligte oorgeneem. Albatros-ouers deel dié pligte en nadat die kuiken uitgebroei het, voer hulle dit ook saam aan ʼn dieet ryk aan viseiers en inkvis, of deur kos op te bring in die bekke van die kuikens. Dié ryk kos kan ʼn kuiken dae lank versadig hou.

Bioloë plaas ‘n ringetjie aan een van Wisdom se vorige kuikens. (Foto: USFWS)

In Junie of Julie vlieg die kuikens vir die eerste keer.

Sowat 70% van die wêreld se mōlī en amper 40% van alle ka’upu (twee albatrossoorte), asook die bedreigde makalena-albatros, maak almal staat op die voortbestaan van die Midway-atol, sê die bewaringsdiens. Benewens die albatrosse woon meer as 20 ander voëlspesies ook daar. Die meeste daarvan is tropiese seevoëls.

“Elke jaar wat Wisdom terugkeer leer ons meer oor hoe lank seevoëls kan leef en hoe hulle hul kuikens grootmaak. Haar terugkeer is nie net inspirasie vir voëlliefhebbers nie, maar dit help ons ook om beter te verstaan hoe ons hierdie elegante seevoëls en hul habitat vir oorlewing in die toekoms kan beskerm.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Sarel ·

O Heng nou is dit bekend in SA.
Beter die Kuikens baie goed oppas

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.