Lisa Montgomery tereggestel

‘n Foto van Lisa Montgomery wat reeds in 2004 geneem is. (Foto: Wyandotte County Sheriff’s Department/AFP)

Lisa Montgomery, die Amerikaanse vrou wat vroeër ter dood veroordeel is vir ʼn moord in 2004 op ʼn swanger vrou, is Woensdag in die VSA met behulp van ʼn dodelike inspuiting tereggestel. Sy is die eerste vrou wat in bykans sewe dekades deur Amerikaanse federale owerhede tereggestel is.

Montgomery se teregstelling vind plaas in die doodsnikke van pres. Donald Trump se regering.

Montgomery se teregstelling is vroeër tydelik opgeskort nadat ʼn federale regter ʼn hofbevel toegestaan het. Die regstryd oor haar teregstelling het nou geëindig met ʼn bevinding wat Woensdag in die vroeë oggendure gemaak is.

Die 52-jarige Montgomery het ʼn swanger vrou vermoor om haar baba te steel, maar het gepleit om begenadiging op grond daarvan dat sy geestesversteurd sou wees.

Sy is die 11de persoon wat tereggestel is nadat die Trump-administrasie hom suksesvol daarvoor beywer het om federale teregstellings ná 17 jaar voort te sit.

Montgomery se prokureur, Kelley Henry, het die besluit om ʼn vrou vir die eerste keer sedert 1953 tereg te stel, in ʼn snydende verklaring as ʼn “wrede, onregmatige en onnodige gebruik van outoritêre mag” bestempel.

“Die bloedlustigheid van ʼn mislukte administrasie kon vandag deur almal gesien word,” het Henry gesê.

“Almal wat aan Lisa Montgomery se teregstelling deel gehad het, behoort hulle te skaam.”

Die Amerikaanse hooggeregshof het 6-3 gestem ten gunste van ʼn besluit wat op die nippertjie geneem is om Montgomery se teregstelling te laat voortgaan. Dít ten spyte van twyfel oor haar geestestoestand.

Die hof se drie liberale regters het ten gunste van begenadiging gestem.

Diegene wat Montgomery verdedig het, het nie die erns van haar misdaad ontken nie. Montgomery kon nie self ʼn kind hê nie en het haar slagoffer – ʼn hondeteler genaamd Bobbie Jo Stinnett – versigtig aanlyn geïdentifiseer.

Onder die voorwendsel dat sy ʼn hondjie wou koop is Montgomery na Stinnett se huis waar sy haar verwurg en die baba uit haar liggaam gesny het. Die kind het oorleef.

In 2007 is sy skuldig bevind aan ontvoering wat tot ʼn dood gelei het en is sy die doodstraf opgelê.

Haar regspan voer aan sy het aan ʼn ernstige geestestoestand gelei wat gespruit het uit die mishandeling wat sy as kind moes verduur. Sy het nie die betekenis van haar vonnis begryp nie, het hulle aangevoer, en dít was  ʼn voorvereiste om die vonnis te voltrek.

Pleidooi om begenadiging

Maandagaand het ʼn federale regter die verdediging ʼn vlugtige reddingsboei gegee en beveel dat haar teregstelling opgeskort word om hulle tyd te gee om ʼn ondersoek na Montgomery se geestestoestand te doen.

“Die hofrekord bevat genoeg getuienis dat me. Montgomery se huidige geestestoestand so ver verwyder van die werklikheid is, dat sy nie die regering se besluit om haar tereg te stel, verstaan nie,” het die uitspraak gelui.

ʼn Appèlhof het die besluit egter Dinsdag omgekeer en dit aan die VSA se hoogste hof oorgelaat om te besluit.

Trump, soos talle van sy konserwatiewe ondersteuners, is ʼn groot voorstander van die doodstraf en het ʼn pleidooi om begenadiging van Montgomery se ondersteuners geïgnoreer.

Die Demokratiese senator Dick Durbin het intussen Maandag die bekendstelling van wetgewing om federale teregstellings te beëindig, aangekondig.

Dit kan deurgevoer word as aangewese pres. Joe Biden volgende week die leisels oorneem en die Demokrate weer beheer van die senaat oorneem.

Benewens Montgomery word nog twee mans in dieselfde tronk in Indiana na verwagting vandeesweek tereggestel.

Hulle teregstelling is uitgestel nadat hulle Covid-19 opgedoen het.

Vrees

Helen Prejean, ʼn Rooms-Katolieke non wat bekend is vir haar teenstand teen die doodstraf, het die afgelope naweek gepraat oor federale aanklaers wat “dag en nag werk” om die appèlle van federale gevangenes teen te staan.

“Julle hoef dalk nie die vrees of die sweet in die teregstellingskamer te sien nie, maar julle is aandadig hieraan,” het Prejean geskryf. Sy het hulle gevra om te verhoed dat teregstellings in die week voor Biden se inhuldiging gedoen word.

Voormalige wagte by die tronk waar Montgomery aangehou is, het ook aan die departement van justisie geskryf om te vra dat teregstellings uitgestel word totdat beamptes teen Covid-19 ingeënt is.

Tussen diegene wat die vonnis moet voltrek, wagte, getuies en regsverteenwoordigers is daar talle mense in ʼn baie klein ruimte en kan dit tot die verspreiding van Covid-19 lei.

Amerikaanse state, waaronder ook die konserwatiewe Texas, het teregstellings drie maande lank weens die pandemie opgeskort, anders as die federale regering wat met talle teregstellings probeer voortgaan voor Trump as president vervang word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

30 Kommentare

Inge ·

Ek kan nie verstaan hoe iemand hierdie vrou kan verdedig nie. Sy verdien geen regte. Sy het ‘n vrou se lewe geneem en die baba uit die ma se liggaam gesny…dink bietjie daaroor. Dit is malligheid. Sy het presies geweet wat sy gedoen het en alles beplan. Sy het verdien wat sy gekry het.

Alet ·

Ja dis seker wreed om haar tereg te stel. Maar hoe wreed was sy om ‘n amper op term baba uit sy mamma se maag te sny en lewenslank die reg te ontneem van ‘n moeder. ‘n Mamma wat dood is wat nooit die vreugde sou smaak om haar baba eenmaal in haar arms te hou nie. Die wereld is so vreeslik oor die menseregte van die kriminele en altyd allerhande stories oor hoekom hulle so is. Ek wens die hele wereld kan so opstaan vir die slagoffers in hierdie verhale. Maar hulle tel mos nie. Altyd die arme een met een of ander kamtige sindroom siestog. Sy het nie soveel kognitiewe probleme gehad as sy vir haarself kon uitredeneer hoe om die slagoffer te soek en te nader nie. Daar het nie veel met haar denkvermoë geskort toe sy haar dade beplan het nie. Die probleem kom in wanneer hulle gevang word. Dis dan wanneer hulle altyd bewusteloos pleit.

JohanR ·

Hier in SA moet baie van die ANC’s wat in die tronk behoort te wees, ook geestesversteuring pleit!

Jaco ·

Dié was ‘n federale teregstelling. So ongeag of die staat waarin sy die moord gepleeg het die doodstraf het of nie, is dié doodstraf deur die federale regering in Washington goedgekeur/uitgevoer. Dis vreemd, want daardie federale regering word deur die liberale Demokratiese Party beheer. Hulle beheer klaar die Huis van Verteenwoordigers en die Senaat. ‘n 20 Januarie is hulle man ook die president. So dié doodstraf is regtig vreemd. Wat dan nou van human rights en defunding the police? Iewers is dubbele standaarde…

Robert ·

Klink my jy ondersteun haar regte bo die van haar slagoffer?

Cherokee ·

Jaco, jou skielike, tong in die kies is wat dit in Afrikaans is, doen100% afbreek aan jou oorspronklike sinvolle, goed bewoorde vraag, wat nie dui op voorspraak vir enige van die kante. Dit was goed gestel. Toe neuk jy dit op met jou antwoord aan Robert wat nie verstaan nie.

Gerhardus ·

As sy die moord só fyn kon beplan én haar planne kon deurvoer, dan skort daar níks met haar sogenaamde geestestoestand nie. ‘n Mens kannie “insanity” pleit as mens sulke “sane” besluite kon neem nie. Dit was voorafbeplande moord.

Eish ·

Ek wonder… sal Henry voor die kind staan en verduidelik dat almal wat deel gehad het aan sy/haar moeder se moordenaar se teregstelling, hulle moet skaam?

Alexander ·

Die teregstelling is wonderlike nuus. Die liberales praat van die vrees in die teregstellingskamer, maar wat van die vrees waarmee die slagoffer moes worstel toe sy bloeddorstig vermoor is.

Pieter ·

As die ANC land se regstelsel darm so gewerk het sou dit baie beter hier gegaan het.

Philip ·

Die ou Libtards in AMERIKA en SUID AFRIKA kon ni wag om die teregstelling nog vir laastens toe op President Trump se brood te smeer nie

Aai ·

Gese sy gaan dit nie maak tel die ure.Dit is wat sy kry as jy ‘n mens se lewe wil neem om uit dit te baat.

Debbie ·

Ek stem saam Alet. Die hele wêreld staan altyd op vir die arme kriminele. Wat van die slagoffers? Niemand staan vir hulle op of hou optogte vir hulle nie. Ja, ek glo daar gaan angs en spanning gepaart voor en tydens ‘n teregstelling. Maar so het die slagoffer ook deur angs en spanning gegaan voordat sy vermoor is. Wat van die trauma waardeur die slagoffers se familie en vriende moet gaan? Dit moet verskriklik wees om te weet dat jou geliefde so wreed moes sterf. Dit is nie lekker om die doodstraf te moet toepas nie, maar dit moet ongelukkig gedoen word. Mens moet ‘n boodskap aan die gemeenskap stuur dat sulke optredes nie geduld sal word nie. Wat sy gedoen het, was baie wreed. En daar was beplanning voor die moord. Sy kon die besluit gemaak het om nie voort te gaan met die moord nie. Ek is ‘n Christen en glo sy kan vergifnis vir haar dade kry indien sy opreg berou het. As daar geen regstelsel is nie, sal mense doen net wat hulle wil en hulle sal geen gevolge vrees nie.

Hydi ·

Ernstige geestesgoestand? Maar sy kon die moord fyn beplan!! Hoekom moet moordenaars regte hê wanneer hul hul slagoffers van alle regte ontneem?

Herman ·

Ag nee wat, sy was nie mal toe sy haar slagoffer via die internet uitgesoek het, die moord en ontvoering beplan het nie.Sy het presies geweet wat sy NIE gehad het nie,en sy het presies beplan hoe om dit te kry,ongeag die verwoesting en hartseer wat sy agtergelaat het…check the worry in my eye…jy neem ‘n lewe en jy betaal met jou eie.

Wondermaarnet ·

Dit is tyd dat SA notisie neem van sulke sake en die doodstraf hier ook terugbring.

Jakes ·

Net baie jammer dat die doodstraf nie 26 jaar gelede in SA hervat is nie.

Veronika ·

Kelly Henry……wreed sê jy…… Nee wat, wat is wreder as wat sy gedoen het? Gedurig geestesversteurdheid pleit as jy jou agterwereld gaan sien……………. jy was nie te versteurd toe jy jou planne gemaak het nie!! Nee geregtigheid het geseevier!! Dit is selfs volgens die Bybel reg!!

Madz ·

Dit was wreed, koelbloedig en onmenslik! Ons kort DIT in SA – ek het geen simpatie met die vrou nie!

Niklaas ·

Die datum van teregstelling is amper 20 jaar te laat. Daar is net teveel Bleeding Hearts wat vir haar jammer is , maar sy was nie jammer vir die jong verwagtende amper-moedertjie nie. Sy moes sommer die elektriese stoel gekry het. Joe Biden wil blykbaar baie genadig wees teenoor moordenaars wat nog wag om tereggestel te moet word.

AH ·

Hulle verdien nie enige genade nie. Hulle het nie genade vir hul slagoffers gehad nie. Bietjie laat om “insanity” te pleit.

Johan ·

Ek is ook ‘n vurige voorstaander van die doodstraf. Maar wat my aanbetref het sy nou haar skuld betaal en ek sal haar nie verder veroordeel nie.

Anoniem ·

Ek kry Montgomery baie jammer……………………..maar ongelukkig het sy ;n ander mens se lewe geneem……….en sy moet boet daarvoor!!!

Piet ·

Dis 2021 en mense praat steeds die doodstraf goed. Selfde mense wat nie maskers wil dra nie want regerings skend hulle mense regte, is 100% agter die regering wat mense se lewens mag neem. Ongelooflik

Porseleintjie ·

“If you live by the sword you will die by the sword”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.