Lugdiens hok 737’s ná ongeluk

Die lugdiens het sy webwerf en sosiale media na swart-en-wit verander ná die ongeluk (21 Maart 2022) (Foto: China Eastern/Facebook)

China Eastern het sy webwerf Maandagmiddag na swart-en-wit verander en alle Boeing 737-vliegtuie in sy vloot gehok ná ʼn vliegtuigongeluk. Die lugdiens het ook ʼn noodtelefoonnommer op sy webwerf gepubliseer vir bystand.

Maroela Media het vroeër berig ʼn passasiersvliegtuig van China Eastern het in die suidweste van die land neergestort. Die dodetal is nog nie bevestig nie. Die staatsuitsaaier CCTV het Maandag gesê die ongeluk het ʼn brand op die berg veroorsaak waar die vliegtuig neergestort het.

Daar is aanvanklik berig dat 133 persone aan boord was, maar dié getal is intussen deur lugvaartowerhede aangepas na 132 persone – 123 passasiers en nege bemanningslede.

ʼn Maatskappyverslag wat in Januarie gepubliseer is, het aangedui China Eastern het 289 Boeing 737-vliegtuie in sy vloot van 751 vliegtuie.

Staatsuitsaaier CCTV het gesê hy het verneem China Eastern sal al sy 737-800-vliegtuie hok as ʼn voorsorgmaatreël.

Boeing het in ʼn verklaring gesê hy is “bewus van aanvanklike mediaberigte en probeer verdere inligting bekom”.

Vlug MU5735 het in ʼn berg vasgevlieg kort ná hy kontak met lugverkeerbeheer verloor en in minder as drie minute duisende meter geval het.

Die vlug, van Kunming na Guangzhou, “het kontak oor Wuzhou” in Guangxi verloor, aldus die Burgerlugvaartowerheid van China (CAAC).

Pres. Xi Jinping het vinnig reageer en gesê hy is baie geskok oor die voorval. Hy het ʼn onmiddellike ondersoek na die oorsaak van die ongeluk versoek.

China Eastern het bevestig daar was sterftes, maar nog nie die amptelike dodetal bekendgemaak of aangedui dat daar enige oorlewendes was nie.

“Die maatskappy betuig sy innige meegevoel met die passasiers en bemanningslede wat in die vliegtuigongeluk gesterf het,” het die lugdiens in ʼn verklaring gesê. Die oorsaak van die ongeluk “word nog ondersoek”, het die lugdiens bygevoeg.

Honderde brandbestryders is na die toneel in Teng naby Wuzhou ontbied en inwoners het ook ingespring om te help.

“Almal is berge toe,” het Tang Min, wat ʼn klein restaurant ʼn paar kilometer van die ongelukstoneel bedryf, telefonies aan AFP gesê.

Kommer oor die lot van die vliegtuig het Maandagmiddag ontstaan toe plaaslike media berig het dat vlug MU5735 nog nie by sy bestemming in Guangzhou opgedaag het ná hy om 13:00 (0500 GMT) in Kunming opgestyg het nie.

Die vlugopsporingswebwerf FlightRadar24 wys ook nie enige data vir die vlug ná 14:22 nie. Dit wys hoe die vliegtuig skielik van ʼn hoogte van 29 100 voet tot 3 225 voet (8 870 m tot 982 m) in drie minute gedaal het. Daar is nie enige inligting daarna nie.

Een inwoner het aan ʼn plaaslike nuuswebwerf gesê die vliegtuig het “heeltemal uitmekaar geval”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Hennie Biebouw ·

Hierdie is ‘n bitter vreemde scenario en enwaarskynlik ‘n ontwerpers fout. Die Boeing 737 – 800 NG is die gewildste weergawe van die 737 familie en het ‘n uitstekende veiligheids rekord.Selfs al breek die stert af, sal die vliegtuig nie so vertikaal in die grond duik nie. Iets, of iemand moes die neus afhou. Die 738NG is nie toegerus met die berigte MCAS sisteem nie, dus twyfel ek of dit onbeheerbare reaksie van die vliegtuig self was.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.