Lugmaglid vlieënde sukses by VSA-skoonheidskompetisie

Madison Marsh, ʼn 22-jarige tweede-luitenant in die Amerikaanse lugmag, is die nuwe Mej. Amerika. (Foto: Instagram/@madisonmarsh)

Madison Marsh, ʼn 22-jarige tweede-luitenant in die Amerikaanse lugmag, het Sondagaand in Orlando, Florida in die VSA, geskiedenis gemaak toe sy die eerste aktiewe diensoffisier van enige militêre tak van die VSA geword het om as Mej. Amerika gekroon te word.

Marsh is in Mei 2023 as Mej. Colorado aangewys en het Sondag teen verteenwoordigers van die 49 ander Amerikaanse state, sowel as ʼn deelnemer van die distrik van Colombië, meegeding.

Sy is tans ook ʼn meestersgraadstudent aan die Harvard Kennedy-sakeskool nadat sy in 2022 haar voorgraadse studies in fisika aan Harvard voltooi het.

Die jong luitenant het Sondagaand gekies om nie te sing of dans tydens die skoonheidskompetisie se talentronde nie, maar het eerder vertel oor die ontvangs van haar vlieënierslisensie op die ouderdom van 16 – ʼn droom wat sy sedert kinderdae nagejaag het, aldus die New York Post.

Marsh is Sondagaand as die nuwe Mej. Amerika gekroon. (Foto: Instagram/@madisonmarsh)

Die blondekopskoonheid is deur die Amerikaanse media as die “mooi Top Gun-vlieënier” gedoop en wil haar platform gebruik om om stereotipes oor militêre vroue uit die weg te ruim.

Volgens Marsh wil sy ook haar aandag fokus op die leemtes en uitdagings van die Amerikaanse gesondheidstelsel ná haar oorlede ma se stryd met pankreaskanker.

Sy het aan Fox News gesê dat die lugmag haar skoonheidskompetisiereis “ten volle ondersteun”.

Hoe verskil Mej. Amerika van Mej. VSA?

Hoewel dit nog nuut vir Suid-Afrika is, is dit elders nie ongewoon dat ʼn land meer as een nasionale skoonheidskompetisie onder verskillende lisensiehouers het nie.

In die VSA word wenners van Mej. Amerika na die internasionale Mej. Wêreld-kompetisie gestuur, terwyl wenners van Mej. VSA na Mej. Heelal gestuur word.

Maroela Media het voorheen berig dat Mej. Wêreld die oudste internasionale skoonheidskompetisie ter wêreld is, en ʼn sterker welsyn en humanitêre fokus het met hul Skoonheid met ʼn doel-program as Mej. Heelal.

Die kompetisie se swemdrag-afdeling is 10 jaar terug reeds afgeskaf.

Marsh sal op 2 Maart 2024 die VSA op die Mej. Wêreld-verhoog in Indië verteenwoordig.

Bronne: New York Post, USA Today, Daily Mai, Fox News.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Gaitsigubib ·

Deesdae is ek versigtig om te se sy is mooi. Mag mens vra vir n geboorte sertifikaat?

Niklaas ·

Dis een pragvrou , en wat merkwaardig is , is haar deursettingsvermoe en intellek. Geen Dom Blond hierdie nie , hoor. Dis ook nie te maklik om daardie tipe vliënier te word nie. Ek het heelwat respek vir hierdie dame.

Gaitsigubib ·

Johan hulle promoveer nou die weermag want hulle het almal wat nie die ent wou neem weggejaag en daarna ‘n woke agenda gevolg wat baie terkorte veroorsaak het. Nou wil hulle regte jong mans kry om aan te sluit, sodat hulle iewers in die wereld n oorlog kan begin.

Annelize ·

Sy is pragtig en het ‘n natuurlike voorkoms. Grimering nie met ‘n troffel aangeplak nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.