Hoe lyk Mej. SA se toekoms ná Mej. Wêreld-lisensie debakel?

Anneline Kriel het in 1974 die Mej. Wêreld-kroon gewen. (Foto: Instagram/Anneline Kriel)

Die Mej. Suid-Afrika-organisasie het onlangs onverwags bevestig dat hul paadjies gaan skei met die gesogte Mej. Wêreld-skoonheidskompetisie, wat Rolene Strauss, voormalige Mej. SA in 2014 gewen het, omdat hul waardes nie meer met dié van Mej. Wêreld strook nie.

Dié nuus het gevolg nadat die Mej. Wêreld-skoonheidskompetisie op 11 Mei in ʼn Facebook-plasing aangekondig het dat Carol Bouwer, Suid-Afrikaanse aktrise en sakevrou, die nuwe lisensiehouer van Mej. Wêreld in Suid-Afrika is.

Geen aankondiging is op die Mej. Suid-Afrika se platforms gedeel nie, maar kompetisie-verteenwoordigers se kort antwoord aan Maroela Media op navrae rondom dié nuus was soos volg: “Ons het besluit om op Mej. Heelal en Mej. Supranasionaal te fokus aangesien ons waardes van inklusiwiteit met dié kompetisies belyn is.”

Daar word beweer dat dié besluit geneem is na aanleiding van die Mej. SA-kompetisie se besluit om deelname vir getroude vroue en moeders oop te stel, iets wat die Mej. Wêreld-kompetisie steeds nie toelaat nie.

Wat beteken hierdie nou vir die toekoms van Suid-Afrika se deelname aan hierdie internasionale skoonheidskompetisies?

Wat is die verskil tussen Mej. Wêreld en Mej. Heelal?

Mej. Wêreld is die oudste internasionale skoonheidskompetisie ter wêreld en is in 1951 deur Eric Morley, voormalige Britse televisiepersoonlikheid, en Julia Morley se oorlede man, gestig.

Dié kompetisie het ʼn sterker welsyn en humanitêre fokus met hul Skoonheid met ʼn doel-program as Mej. Heelal, en het selfs in 2014 hul swemdrag-afdeling afgeskaf.

“Ek het nie nodig om vroue te sien wat net op en af ​​in bikini’s loop nie. Dit doen niks vir die vrou nie en dit doen niks vir ons nie. Die fokus is nou op hulle breine en persoonlikhede,” het Morley het dié besluit in ’n onderhoud met Elle Magazine verduidelik.

Rolene Strauss is in 2014 as Mej. Wêreld gekroon. (Foto: @haseebofficial, Twitter)

Mej. Heelal is op sy beurt in 1952 deur Pacific Knitting Mills, ‘n Kalifornië-gebaseerde kleremaatskappy gestig. Pacific Knitting Mills was tot en met 1951 ook die hoofborg van die Mej. Amerika-kompetisie, maar het onttrek toe daardie jaar se wenner, Yolande Betbeze, geweier het om vir publisiteitsfoto’s te poseer waarin sy van hulle kleredrag moes dra.

Die eerste Mej. Heelal-wenner, Armi Kuusela van Finland, het egter haar titel in haar kroningsjaar prysgegee om te trou.

Mej. Heelal word in sekere skoonheidskompetisie-kringe as die gesogter titel geag, maar daar is nie konkrete bewyse wat die een se sukses bo ʼn ander plaas nie.

Bekendes soos die aktrises Aishwarya Rai en Priyanka Chopra-Jonas het hul loopbane op die Mej. Wêreld-verhoog afgeskop, terwyl Olivia Culpo, model en televisiepersoonlikheid, bekendheid danksy haar Mej. Heelal-titel verower het.

Die grootste verskil tans is die aangepaste reëls rakende deelname vir moeders en getroude vroue – ʼn kwessie waarvoor Mej. Wêreld al in die verlede hof toe gesleep is.

Veronika Didusenko, ʼn voormalige Mej. Oekraïne, het in 2018 regstappe teen die Mej. Wêreld-kompetisie geneem nadat sy van haar titel gestroop is toe dit aan die lig gekom het dat sy ‘n geskeide ma is.

Margaret Gardiner het in 1978 die Mej. Heelal-titel gewen. (Argieffoto)

Didusenko (24) het destyds op Instagram geskryf dat sy die kompetisie dagvaar met die doel om vir “geregtigheid” te veg en hopelik Mej. Wêreld se toegangsbeperkings te wysig.

Die Mej. Wêreld-organiseerders het in reaksie daarop gewys dat Didusenko nooit vir hulle kompetisie ingeskryf het nie en deur die Mej. Oekraïene-organisasie (‘n lid van Mej. Wêreld) van haar skoonheidstitel gestroop is.

“Didusenko was nie ‘n deelnemer in die Mej. Wêreld 2018-kompetisie nie. Die reëls waaronder Mej. Wêreld funksioneer, word voortdurend hersien. Die reëls is opgestel met die hoofdoel om ‘n Mej. Wêreld te vind wat nie verbintenisse het nie en in staat is om dikwels op kort kennisgewing en vir lang tydperke te reis ter ondersteuning van siekes en benadeeldes, dikwels na gebiede wat verwoes word deur natuurrampe,” het die kompetisie in ʼn mediaverklaring gereageer.

Dié verduideliking is moontlik ook die rede vir die kompetisie se besluit om nie hul reëls vir moeders en getroude vroue aan te pas nie.

Dit is nie bekend of Didusenko se saak ooit verder in die hof gevorder het nie.

Nuwe eienaarskap by Mej. Heelal beïnvloed moontlik nuwe reëls

Die Mej. Heelal-kompetisie het in 2022 aangekondig dat hulle “ter wille van inklusiwiteit” vir die eerste keer in meer as 70 jaar ook moeders en getroude vroue toelaat om aan hul kompetisie deel te neem.

Zozibini Tunzi, was 2019 se Mej. Heelal. (Foto: Miss SA/Instagram)

Hierdie veranderinge volg nadat Anne Jakapong Jakrajutatip, ʼn Thaise sakemagnaat, in Oktober 2022 geskiedenis gemaak as die eerste vrou (én eerste transgender vrou) om die Mej. Heelal-kompetisie te besit.

Haar mediamaatskappy, JKN Global Groep, besit nou ook die Mej. VSA en Mej. VSA-tiener-kompetisies. Dié drie handelsmerke was die afgelope twee dekades in besit van Donald Trump, voormalige Amerikaanse president.

Jakrajutatip het die lisensies luidens mediaberigte vir $20 miljoen (meer as R300 miljoen) gekoop en het ten tyde van haar oorname belowe om die handelsmerk “vir die volgende generasie te ontwikkel”, berig die Daily Mail.

SA nou een van vele lande met meer as een nasionale skoonheidskompetisie-wenner

Hoewel dit ʼn eerste vir Suid-Afrika is, is dit elders nie ongewoon dat ʼn land meer as een nasionale skoonheidskompetisie onder verskillende lisensiehouers het nie.

In die VSA word wenners van “Mej. Amerika” na Mej. Wêreld gestuur, terwyl wenners van “Mej. VSA” na Mej. Heelal gestuur word.

SA se Demi-Leigh Nel-Peters was Mej. Heelal in 2017.  (Foto: Facebook via Miss Universe)

Dieselfde geld in die Verenigde Koninkryk (VK) waar wenners van “Mej. Brittanje Heelal” ʼn Britse verteenwoordiger vir Mej. Heelal kies en “Mej. Engeland” se wenner na Mej. Wêreld gestuur word.

Die Mej. SA-kompetisie het voorheen onder hul eie vaandel ʼn Mej. SA-wenner vir beide Mej. Wêreld én vir Mej. Heelal deelname aangewys.

Met haar kroning in Augustus 2022 is daar egter aangekondig dat net die heersende Mej. SA, Ndavi Nokeri, aan al die internasionale skoonheidskompetisies soos Mej. Heelal, Mej. Wêreld en Mej. Supranasionaal sal deelneem.

Die 2022-naaswenner, Ayanda Thabethe (22) van Pietermaritzburg in KwaZulu-Natal, sou slegs aan ʼn internasionale kompetisie deelneem indien Nokeri een van dié titels verower of nie in staat is om self deel te neem nie.

Nokeri het reeds aan vanjaar se Mej. Heelal-kompetisie deelgeneem, waar sy die top-16 gehaal het. Mej. SA se keuse om hul Mej. Wêreld-lisensie prys te gee, beteken dat Nokeri in haar kroningsjaar nog net aan die Mej. Supranasionaal-kompetisie kan deelneem.

Die voormalige Mej. SA, Lalela Mswane, is tans die heersende Mej. Supranasionaal en het geskiedenis gemaak as die eerste swart vrou wat dié skoonheidskompetisie se kroon dra.

Hoe lyk die pad vorentoe?

Bouwer se oorname van die Mej. Wêreld-lisensie in Suid-Afrika beteken nou dat Suid-Afrikaanse vroue onder haar onderneming, Carol Bouwer Productions, se vaandel aan die Mej. Wêreld-kompetisie kan deelneem.

“Carol verstaan ​​die belangrikheid van ons gekoesterde tema van Skoonheid met ʼn doel, wat alle Mej. Wêreld-aktiwiteite reg oor die wêreld ondersteun. Carol se passie, integriteit en kreatiwiteit sal Skoonheid met ʼn doel na die volgende vlak neem,” het Mej. Wêreld se aankondiging oor Bouwer se oorname gelui.

Die huidige Mej. Wêreld, Karolina Bielawska (links, agter), Carol Bruwer (regs, agter), Julia Morley (links, voor), hoof van Mej. Wêreld en voormalige Mej. Heelal, Rolene Strauss (regs, voor). (Foto: Facebook/@Miss World)

Wenners in Bruwer se kompetisie sal dus as “Mej. Wêreld Suid-Afrika” gekroon word.

Mej. Wêreld Suid-Afrika en Mej. Suid-Afrika sal twee verskillende titels wees en hou glad nie met mekaar verband nie. Mej. Suid-Afrika-wenners sal ook voortaan slegs aan Mej. Heelal en Mej. Supranasionaal deelneem.

Suid-Afrika het tot op hede ewe veel wenners by die Mej. Heelal‑ en die Mej. Wêreld-kompetisie opgelewer.

Margaret Gardiner (1978), Demi-Leigh Nel-Peters (2017) en Zozibini Tunzi (2019) is al as Mej. Heelal‑wenners gekroon, terwyl Penny Coelen (1958), Anneline Kriel (1974) en Rolene Strauss (2014) al die Mej. Wêreld-titel verower het.

Bykomende bronne: Fact Company.com, Elle.co.uk, Miss World.com, Daily Mail, Miss Universe.com, BBC, People, Esquire.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Stofdonkie ·

Dus hoef die Mej Wêreld nie meer ‘n Mej te wees of enigsins mooi of vroulik nie. Kyk mooi, vrouens dink hulle kan mans se werke doen, maar ‘n man gaan nog die kompetisies wen!

Vonkprop ·

Kom ons wees eerlik. Wie gee nog regtig om vir skoonheidskompetisies? As jy regtig iets vir die wêreld wil doen, doen dit sonder om jouself op te veil op ‘n verhoog. Reik uit na mense en netwerk. Daar is baie mense wat jou sal wil help sonder om jouself goedkoop te maak.

melaney ·

Stem! Kyk hoe lyk “Real Housewives”. Hulle gedrag is vanuit ‘n asblik uit, en hulle dink die wêreld van hulself.

PETRO ·

Melaney, jy kan nie die sirkus van real housewifes met skoonheids kompetisies vergelyk nie, dis werelde uit mekaar. Die huidige skoonheids kompitisies doen baie vir liefdadigheid.

George ·

Tog moet jy steeds langer as 1.65m wees, maar nou kan jy n MRS wees en steeds aan Mej deelneem.

Amelia ·

(my gunsteling Annelie kriel) Maar elke vrou het iets mooi hetsy binne of buite

Republikein in die Wes Kaap ·

Hierdie is ‘n krisis. ‘n Komitee met ‘n regter as voorsitter moet dit ondersoek.

Henk ·

Skoonheidskompetiesies is ou nuus. Ek het jare der jare gelede al opgehou om dit te kyk. Deug bly staan, skoonheid vergaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.