Mej. SA-organisasie se vlag sal voortaan nie meer by Mej. Wêreld wapper

Die huidige Mej. Wêreld, Karolina Bielawska (links, agter), Carol Bouwer (regs, agter), Julia Morley (links, voor), hoof van Mej. Wêreld en voormalige Mej. Heelal, Rolene Strauss (regs, voor). (Foto: Facebook/Miss World)

Die Mej. Suid-Afrika-organisasie gaan klaarblyklik nie meer hul wenners na die gesogte Mej. Wêreld-skoonheidskompetisie stuur nie.

Dít volg nadat die Mej. Wêreld-skoonheidskompetisie Donderdag in ʼn Facebook-plasing aangekondig het dat die aktrise en sakevrou Carol Bouwer die nuwe lisensiehouer van Mej. Wêreld in Suid-Afrika is.

Suid-Afrikaanse vroue sal dus onder haar maatskappy, Carol Bouwer Productions, se vaandel aan die Mej. Wêreld-kompetisie kan deelneem.

“Carol verstaan ​​die belangrikheid van ons gekoesterde tema van ‘Beauty with a Purpose’, wat alle Mej. Wêreld-aktiwiteite reg oor die wêreld ondersteun. Carol se passie, integriteit en kreatiwiteit sal Beauty with a Purpose na die volgende vlak neem,” lui die verklaring.

Dié aankondiging is saam met foto’s van Bouwer, die huidige Mej. Wêreld, Karolina Bielawska, Julia Morley, hoof van Mej. Wêreld, en ʼn voormalige Mej. Wêreld, Rolene Strauss, op Facebook geplaas.

Dit word beweer dat dié besluit geneem is na aanleiding van die Mej. SA-kompetisie se besluit om deelname vir getroude vroue en moeders oop te stel, iets wat die Mej. Wêreld-kompetisie steeds nie toelaat nie.

Die Mej. SA-organisasie het onlangs verskeie aanpassings en toevoegings tot hul kompetisie aangekondig, waaronder dat ma’s en getroude vroue ook nou aan dié kompetisie sal kan deelneem. Dié nuwe reëls laat ook vroue wat 30 word in hul kroningsjaar toe om deel te neem en daar is ook geen lengte- of gewigspesifikasies of ‑vereistes nie.

Karolina Bielawska en Rolene Strauss in Kaapstad. (Foto: Facebook/Miss World)

Maroela Media het vroeër berig dat dié besluit glo gevolg het op die Mej. Heelal-kompetisie se aankondiging in 2022 dat hulle “ter wille van inklusiwiteit” vir die eerste keer in meer as 70 jaar ook moeders en getroude vroue gaan toelaat om aan hul kompetisie deel te neem.

Die vermoede is dat Mej. SA hul veranderings aangebring het om in ooreenstemming met die Mej. Heelal-kompetisie sʼn te wees, aangesien Mej. SA-wenners die afgelope vyf jaar uiters goed in dié kompetisie vaar.

Lalela Mswane kroon Mej. Suid-Afrika 2022, Ndavi Nokeri, in Augustus 2022. (Foto: Yolanda van der Stoep/Verskaf)

Suid-Afrika het tot op hede ewe veel wenners by die Mej. Heelal‑ en die Mej. Wêreld-kompetisie opgelewer.

Margaret Gardiner (1981), Demi-Leigh Nel-Peters (2017) en Zozibini Tunzi (2019) is al as Mej. Heelal‑wenners gekroon, terwyl Penny Coelen (1958), Anneline Kriel (1974) en Rolene Strauss (2014) al die Mej. Wêreld-titel verower het.

Die Mej. SA-kompetisie het by navraag gesê dat daar nie ʼn amptelike verklaring oor dié nuus versprei sal word nie. Hulle het ook nie die rede vir hul onttrekking bevestig nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

melaney ·

Vir jare en jare het alles vlotgeloop. En nou moet daar eenvoudig ‘n stokkie voorgesteek word.

Nici ·

So dis nie meer net mejuffrou nie. Hoop nie dit raak so divers vir mense wat glo hul is ‘n ander geslag nie.

Hennie ·

Ek identifiseer as n mej Wêreld…. Kan ek maar deelneem. My bikini sit bietjie styf, maar wie gee regtig om?

Anel ·

Daar is dan ‘n mevrou Suid Afrika! Wie voel nou weer uitgesluit? Mag jong mense ook nou niks meer hê nie? Watter regdenkende, opgevoede ma wil haar liggaam so gaan paradeer, in elke geval? Wonder nou ook of daar van Steve en Helen se maatjies is wat daar wil gaan deelneem en nooit kon nie! In elke geval ‘n siek kompetisie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.