Ma dalk uitgelewer oor oorskot in tasse

Argieffoto (Foto: Steve Buissinne/Pixabay)

Suid-Korea hersien ʼn hofsaak of ʼn 42-jarige vrou aan Nieu-Seeland uitgelewer moet word ná haar twee kinders se oorskot in Augustus in reistasse in Auckland, Nieu-Seeland, gevind is.

Die land se ministerie van justisie het staatsaanklaers Donderdag opdrag gegee om aansoek te doen vir die hersiening by die hooggeregshof in Seoel nadat daar bepaal is dat daar “goeie redes bestaan” dat die verdagte wel die misdade gepleeg het.

Indien die hof ten gunste van die uitlewering beslis, sal die minister van justisie, Han Dong-hoon, finaal ʼn besluit neem of die vrou aan Nieu-Seeland uitgelewer sal word.

Maroela Media het vroeër berig die polisie in Nieu-Seeland het in Augustus vanjaar ʼn moordondersoek van stapel gestuur nadat die kinders, vermoedelik vyf en tien jaar oud, se oorskot in reistasse gekry is. Die tasse is saam met ʼn stooreenheid in Papatoetoe in die suide van Auckland opgeveil. ʼn Gesin wat die stooreenheid gekoop het, het die oorskot in die tasse gevind.

Die kinders was al jare lank oorlede en die tasse is vir minstens drie tot vier jaar lank gestoor.

Die polisie in Suid-Korea sê die vrou is in Suid-Korea gebore en het later na Nieu-Seeland verhuis en burgerskap bekom. Sy het in 2018 na Suid-Korea teruggekeer.

Sy is in September deur die polisie in Suid-Korea in hegtenis geneem ná ʼn lasbrief vir haar inhegtenisneming uitgereik is deur Nieu-Seeland. ʼn Formele versoek vir uitlewering is daarna aan Suid-Korea gestuur.

Die hersieningsaansoek sal na verwagting minstens twee maande lank duur.

Bron: CBS News, Guardian

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.