Macron bekragtig pensioenhervorming ondanks betogings

ʼn Brand is gestig by ʼn polisiestasie in Rennes (14 April 2023) (Foto: Damien Meyer/AFP)

Die Franse president Emmanuel Macron het Saterdag sy omstrede pensioenhervorming bekragtig ondanks drie maande se betogings en pleidooie van vakbonde om nie die wetgewing te implementeer nie.

Die wysigings het wet geword ná die teks net voor sonsopkoms in Frankryk se amptelike staatskoerant gepubliseer is. Daar is beskuldigings van die opposisie dat Macron dit in die nagtelike ure deurgesmokkel het.

Die publikasie kom net ure ná die Konstitusionele Raad die kern van die wetgewing goedgekeur het – insluitend die verhoging van die aftreeouderdom van 62 na 64.

Vakbonde het gewaarsku dat hulle massabetogings skeduleer vir Werkersdag op 1 Mei. Betogings het oornag in verskeie stede gewelddadig geraak toe die uitslag aangekondig is.

Die stryd om die wet te implementeer was Macron se grootste plaaslike uitdaging in sy tweede ampstermyn. Die veranderinge is op groot skaal teengestaan en sy gewildheid het begin afneem.

Sosialistiese leier Olivier Faure het gesê Macron se vinnige ondertekening van die wet wys op “minagting” jeens die protesbeweging en linkse LP Francois Ruffin het dit as ʼn “demokratiese oponthoud” beskryf.

Emmanuel Macron (Foto: Ludovic Marin/Pool/AFP)

“ʼn Wet is in die middel van die nag bekragtig, soos diewe,” het Fabien Roussel, hoof van die Franse kommunisteparty, op Twitter gesê. “Almal op straat op 1 Mei.”

Die Konstitusionele Raad van nege lede het ten gunste van sleutelwysigings in die hervorming gestem, insluitend om die aftreeouderdom te verhoog en die jare te verleng wat personeel moet werk om vir ʼn volledige pensioen te kwalifiseer. Volgens die raad stem die wetgewing ooreen met Franse wette.

Ses geringe voorstelle is verwerp insluitend dat groot maatskappye gedwing word om bekend te maak hoeveel personeel is ouer as 55 en die skep van ʼn spesiale kontrak vir ouer werkers.

Die teks in die Franse amptelike joernaal – die amptelike staatskoerant – beteken dat dit nou as ʼn wet bekragtig is.

Macron het aangevoer die veranderinge is “noodsaaklik” om jaarlike pensioentekorte te voorkom wat na verwagting teen 2030 op €13,5 miljard sal staan, aldus regeringstatistieke.

Fietse, e-fietse en rommel is oornag in Parys aan die brand gesteek terwyl honderde betogers in ander stede, insluitend Marseille en Toulouse, opgeruk het. In die westelike stad Rennes het betogers die ingang van ʼn polisiestasie en ʼn konferensiesentrum aan die brand gesteek.

ʼn Betoger hou ʼn Franse vlag langs ʼn houtkonstruksie met die syfer “64” wat aan die brand gesteek is in Le Mans, weste van Frankryk (14 April 2023) (Foto: Jean-Francois Monier/AFP)

Die polisie in Parys sê 112 mense is sedert 22:30 (2030 GMT) in hegtenis geneem.

Macron sal na verwagting vroeg volgende week ʼn perskonferensie hou, het ʼn presidensiële bron aan AFP gesê.

Meeste van die land se Europese bure het reeds die aftreeouderdom na 65 of hoër verhoog.

Teenstanders van die wetgewing meen dit penaliseer vroue en ongeskoolde werkers wat al vroeg met hul loopbane begin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

annie ·

As die Franse maar kon besef. Met die invloei van miljoene uitlanders kan dit binnekort soos in SA gaan en hul soos Afrikaners met honger oë droom oor ‘n joppie. Die meeste betogers is jongmense wat op sestig pensioentrekkers genoem wil word om tuis te sit en oud word. Lui se moses.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.