Man vrygespreek ná 13 jaar in die tronk

Manfred Genditzki wag op die uitspraak by ʼn hof in München, Duitsland (7 Julie 2023) (Foto: Karl-Josef Hildenbrand/Pool/AFP)

ʼn Hof in Duitsland het Vrydag ʼn man vrygespreek ná hy 13 jaar agter tralies spandeer het vir die vermoedelike moord op ʼn bejaarde vrou wat in ʼn bad gevind is.

Manfred Genditzki is tot lewenslange tronkstraf gevonnis op aanklag van die moord op die 87-jarige inwoner van die gebou waar hy in 2008 as ʼn toesighouer gewerk het. Daar is aangevoer dat hy haar tydens ʼn stryery oor die kop geslaan en toe verdrink het.

Genditzki het nog deurlopend tydens ʼn uitgerekte hofstryd ontken dat hy die vrou vermoor het.

Die regters van die streekhof in München het in ʼn geregtelike skandaal, wat hoofopskrifte gehaal het, bepaal dat Genditzki verkeerdelik skuldig bevind is. Hy is vergoeding van byna €369 000 (sowat R7,6 miljoen) toegestaan.

“Dit was nie ʼn moord nie. Hy is dus vrygespreek en gevolglik onskuldig,” het ʼn woordvoerder van die hof gesê, met verwysing na nuwe bewyse dat die vrou se dood ʼn ongeluk was.

Plaaslike media het berig dat Genditzki stil gesit het terwyl die uitspraak voorgehou is. Talle van sy ondersteuners het in die hof gehuil.

Genditzki, nou 63 jaar oud, het in ʼn groot residensiële kompleks in die suidelike dorp Rottach-Egern gewerk. Hy het een keer vantevore sy skuldigbevinding teengestaan voor ʼn federale tribunaal, maar is in 2012 weer skuldig bevind deur ʼn hof in München.

In ʼn derde verhoor, gebaseer op vordering in forensiese wetenskap, het sy prokureur, Regina Rick, nuwe bewyse voorgehou wat wys dat die watertemperatuur in die bad, waar die vrou gevind is, dui op ʼn ander tyd van afsterwe as dit wat aanvanklik aangeneem is.

ʼn Tweede wetenskaplike verslag wat aan die hof voorgehou is, het van ʼn rekenaarsimulasie gebruik gemaak om te wys dat die vrou se afsterwe waarskynlik ʼn ongeluk was.

Rick het verlede jaar Augustus vir die eerste keer haar kliënt se voorlopige vrylating verseker op dié bewyse, gegewe die toenemende twyfel in sy skuld en Genditzki se vorige skoon kriminele rekord.

Ná meer as 13 jaar in aanhouding het hy na sy gesin teruggekeer en as ʼn bestuurder vir ʼn kaasfabriek begin werk terwyl die streekhof ʼn nuwe saak voorberei het.

Die woordvoerder vir die hof het gesê Vrydag se vryspraak, wat uiteindelik selfs deur staatsaanklaers voorgehou is, “is gebaseer op kenners se verslae wat gebruik gemaak het van die mees moderne metodes wat ten tyde van sy vorige skuldigbevindings nie beskikbaar was nie”.

Genditzki het in die 4 915 dae agter tralies die tyd misgeloop om te help om sy kinders groot te maak en ook die geboorte van sy kleinkinders misgeloop, het hy bygevoeg. “Hy is nou vrygespreek. Dit is ʼn tragedie wat mens byna nie kan beskryf nie.”

Die hof het bepaal dat Genditzki €75 moet ontvang vir elke dag wat hy in die tronk was – uiteindelik ʼn bedrag van €368 000. Hy kan ook bykomende eise indien vir verlies aan inkomste.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.