Mans tronk toe ná skietdood van advokaat

Derk Wiersum (44) (Foto: Pat Sparks, Facebook)

Twee mans is Maandag in Nederland elk tot 30 jaar tronkstraf gevonnis vir die moord op ’n bekende advokaat.

Derk Wiersum (44) is in September 2019 voor sy huis in Amsterdam, Nederland, doodgeskiet. Sy dood het groot skokgolwe deur die land veroorsaak.

Die hof het bepaal dat die twee mans, wat slegs bekendstaan as Moreno (33) en Giermo (37), gehuur is om Wiersum vir geld dood te maak. Die regter het die moord as ’n “brutale daad” beskryf.

Ter verswaring van die twee se vonnisse het die regter gesê die saak teen hulle dra meer gewig omdat dit ’n huurmoord was.

Hoewel die meesterbrein agter Wiersum se moord nog nie geïdentifiseer is nie, volg die polisie tans alle moontlike leidrade op.

Wiersum was ten tyde van sy skietdood die regsverteenwoordiger van die hoofgetuie in ’n verhoor teen die land se mees gesoekte dwelmbaron, Ridouan Taghi.

Taghi, van Marokkaanse herkoms, en 16 ander mans staan tans tereg op ’n reeks sluipmoorde die afgelope jaar.

Die moorde hou verband met die groeiende handel in kokaïen in Nederland. Nederlandse media verbind Taghi direk met ’n internasionale kokaïenkartel in Dubai.

Taghi is in Desember 2019 in Dubai in hegtenis geneem en aan Nederland uitgelewer.

Wiersum se kliënt, bekend as Nabil, het as staatsgetuie teen Taghi gedien.

Die vermoorde Nederlandse joernalis, Pieter R de Vries, het Wiersum se dood as “ongekend in die land” beskryf.

De Vries is in Julie in ’n besige straat in Amsterdam geskiet net toe hy ’n televisie-ateljee verlaat het.

De Vries het ten tyde van sy dood as Nabil se vertroueling en raadgewer in die saak teen Taghi opgetree.

Twee mans sal na verwagting later vandeesmaand in die hof verskyn vir De Vries se moord.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

JM ·

Die twee mans is vermoor en nou reken die moordenaars dat hulle die saak opgelos het. Hoe wreed, kortsigtig en pateties.

Mieke ·

Of die land se grense oopgegooi is of nie – ‘our people’ het nog ‘n lang pad om te loop voordat ons wet en orde gaan sien….

Moedeloos ·

So jammer dat dit moes gebeur niemand se lewe is gewaarborg nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.