Mark Knopfler-kitaar lok belangstelling

Mark Knopfler met die kitaar by The Royal Albert Hall, 28 Mei 2008, Kill to Get Crimson Tour (Foto: Sarah Groenen via Christies)

Die kitaar wat die voormalige Dire Straits-musikant Mark Knopfler gebruik het om die bekende opening vir die groep se 1985-treffer “Money for Nothing” op te neem, sal na verwagting tydens ʼn veiling opslae maak.

Die veiling Woensdag is deel van ʼn groot verkoping van sy instrumente.

Die oorspronklike 1959 Les Paul Standard wat Knopfler van Bobby Tench van The Jeff Beck Group bekom het, het ʼn gidsprys van £500 000 (byna R12 miljoen) by Christie’s-afslaers in Londen.

Die kitaar sal egter baie meer moet haal om die rekord te klop van vorige bekende kitare wat vir miljoene dollar verkoop is.

Kurt Cobain se kitaar wat hy tydens sy legendariese 1993 MTV Unplugged-optrede gespeel het, is in Junie 2020 in Los Angeles vir $6 miljoen (vandag sowat R113 miljoen) verkoop – die duurste prys ooit vir ʼn kitaar.

Die tweede duurste kitaar het ook aan Cobain behoort. Dit was ʼn Fender Mustang wat in die video “Smells Like Teen Spirit” in 1991 gebruik is. Die kitaar is in Mei 2022 vir $4,7 miljoen verkoop.

David Gilmour, kitaarspeler vir Pink Floyd, se Fender Stratocaster, genaamd “Black Strat”, is vir byna $4 miljoen in Junie 2019 verkoop – ʼn rekord in daardie stadium. Gilmour het die kitaar in die groep se album The Dark Side of the Moon bespeel.

Eddie van Halen se pasgemaakte Kramer- elektriese kitaar, wat in die video vir Van Halen se “Hot For Teacher” verskyn het, is in April 2023 vir $3,9 miljoen tydens ʼn veiling deur Sotheby’s-afslaers verkoop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.