Massa-uittog van Afghane uit Pakistan begin

Duisende mense het by een van Pakistan se besigste grensposte saamgedrom in ʼn poging om landuit te vlug. (Foto: Farooq Naeem/AFP)

ʼn Massa-uittog van Afghane uit Pakistan het Woensdag begin nadat hulle met aanhouding of uitsetting gedreig is.

Die Pakistanse regering het verlede maand 1,7 miljoen Afghane, wat almal glo onwettig in die land woon, tot 1 November gegee om die land te verlaat of met geweld verwyder te word.

Duisende mense het Woensdag by een van die land se besigste grensposte saamgedrom in ʼn poging om landuit te vlug. Dié tou strek tot 7 km lank. Minstens 29 000 mense het reeds die vorige dag die grens na Afghanistan oorgesteek.

Feroz Jamal, woordvoerder van die provinsiale regering in Khyber Pakhtunkhwa, sê ʼn uitgebreide operasie is van stapel gestuur om gesinne in hegtenis te neem wat onwettig in die land is en weier om te vertrek. Dié provinsie huisves die meeste immigrante vanuit Afghanistan.

Volgens plaaslike mediaberigte is altesame 49 aanhoudingsentrums opgerig wat derduisende mense kan huisves.

ʼn 14-jarige Afghaanse meisie, wat om veiligheidsredes nie geïdentifiseer is nie, het gesê sy sal so lank moontlik in Pakistan bly, al is sy nie wettig in die land nie.

“Ons gaan nie terug huis toe nie, want my onderrig sal dan tot stilstand kom,” het sy aan AFP gesê.

“Ons pa het vir ons gesê as hy deur Pakistanse owerhede in hegtenis geneem word, moet ons nie eens landuit vlug nie, want ons sal geen lewe in Afghanistan hê nie.”

Die afgelope paar jaar het miljoene Afghaanse burgers na Pakistan gevlug weens gewelddadige konflik in die land. Sedert die Taliban in 2021 beheer oor die land teruggeneem het, het nog 600 000 burgers gevlug weens die streng interpretasie van Islamitiese wetgewing.

Pakistan sê die rede waarom hy nou die Afghane uit die land wil hê, is om die “welstand en veiligheid” van sy burgers te verseker nadat daar verskeie aanvalle op die land uitgevoer is. Die regering voer aan dat die aanvalle deur militante groepe gedoen is wat vanuit Afghanistan werk.

Pakistanse burgers het die beleid verwelkom, aangesien die teenwoordigheid van vlugtelinge ʼn groot las op die land se infrastruktuur plaas.

Human Rights Watch sê egter Afghane wat wag op hervestiging na die VSA, Brittanje, Duitsland en Kanada loop nou die risiko om gedeporteer te word nadat hul Pakistan-visums verval het.

Noodsituasie

(Foto: Farooq Naeem/AFP)

Die owerhede in Afghanistan spook intussen om burgers se dokumentasie te verwerk wat weer terugkom. Die prosesse word nie net bemoeilik deur die skaal van die uittog nie, maar ook deur die feit dat sommige van die mense Afghanistan vir die heel eerste keer binnekom.

Samiullah Samoon, wat immigrasie-registrasie by Torkham bestuur, sê die grenspos is in ʼn noodsituasie.

Meer as 130 000 mense het uit Pakistan gevlug sedert die regering in Oktober aangekondig het dat Afghane landuit moet gaan.

Altesame 21 000 mense is Dinsdag in Torkham deurgevoer en nog 8 000 in Chaman.

‘Genoeg is genoeg’

Die polisie het reeds in die hoofstad van Pakistan begin om honderde onwettige strukture te sloop wat Afghane as wonings gebruik het.

“Genoeg is genoeg, verduidelik vir ons hoe om by die grenspos te kom, dan doen ons dit. Die vernedering is te veel,” het Baaz Muhammad gesê. Die 35-jarige Muhammad is in Pakistan gebore nadat sy ouers uit Afghanistan gevlug het.

In die hawestad Karachi het Afghane wat al generasies lank by ʼn vlugtelingkamp gewoon het, gesê dat arbitrêre inhegtenisnemings en afpersing die afgelope paar weke plaasgevind het.

Prokureurs en aktiviste het ook gesê die omvang van die situasie is ongekend, en het ʼn beroep op die regering gedoen om Afghane meer tyd te gun om met waardigheid op te pak.

“Die Pakistanse regering gebruik dreigemente, mishandeling en aanhouding om Afghaanse asielsoekers sonder wettige status te dwing om terug te keer na Afghanistan of om gedeporteer te word,” het Human Rights Watch gesê.

“Die situasie in Afghanistan bly gevaarlik vir baie wat gevlug het en uitsetting sal hulle blootstel aan aansienlike veiligheidsrisiko’s, waaronder bedreigings op hul lewe en welstand.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Alta Alleman ·

Wens die SA regering kan dit aan al die onwettiges hier doen.

Yolandie ·

Ek stem saam, ons grense is mos oop vir al wat leef en beef. Die regering kan nie eers vir sy eie landsburgers sorg en aan hulle behoeftes voldoen nie, maar almal is welkom hier.

Jan Jacobs ·

Dit is die vsa se toedoen, nog n krisis wat die oorlog honger vsa veroorsaak het

Amelia ·

As ons regering ook maar net die onwettige imigrante wil terug stuur sal dalk oook dan beter gaan hier al meer suid afrikaners gaan land uit omdat hier nie werk kos blyplek ens is nie sal help net suid afrikaners hier is dalk kan daar ook dan verandering plaas vind nou is ons weer imigrante n ander land is n bose kringloop

Anje ·

Dis n siek goewerment se toedoen dat die mense gevlug het in die eerste plek. Daardie meisies gaan nou terug na n land waar hul geen toekoms het nie. Klein kindertjies wat wag in lang toue om n land binne te gaan waar hul nie eers gebore is nie. Ek is seker God ween oor al hierdie onreg en die mense wat dit goedpraat…

Danie ·

Wat van die land se eie meisies wat ook geen toekoms het omdat die vlugtelinge hul werk en toekoms kom vat het. Sal jy iemand huisves wat n bedreiging inhou vir jou gesin en familie. Glo nie. Dit is wat nou gebeur in Pakistan en dit is wat alreeds hier in SA ook gebeur. Ons mense ly honger omdat buitelanders net oor die grense kom.

Goldy ·

Linkses se deurmekaaar koppe mors met menselewens regoor die wereld, tog verstaan nie hulle hoe hulle beleid hierdie krises veroorsaak het nie.

Cherokee ·

Ek wonder of dit ‘n opsie is vir die witmense in Suid Afrika, om na SuidWes te verhuis. Of dit enigsins ‘n verskil sal wees.

Di ·

Wens dat hierdie Regering dieselfde doen. Hier is miljoene onwettige immigrante in SA. Ek glo vas dat dit hierdie onwettige immigrante is wat meeste misdaad pleeg in die land. WAAR spoor jy hulle op as hulle misdade pleeg? Daar sal baie meer werk en minder misdaad wees in SA as ALMAL terug gepos word waar hulle vandaan kom. Dit gaan net TE LEKKER in SA, ALMAL is mos welkom, wettig of nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.