Matthew McConaughey wil ‘nie nou’ politiek betree

Matthew McConaughey. (Foto: Noam Galai/Getty Images North America/Getty Images via AFP)

Die Amerikaanse akteur, Oscar-wenner en hartebreker Matthew McConaughey wil nie nou sy naam opskryf om moontlik die volgende goewerneur van die Amerikaanse deelstaat Texas te word nie.

McConaughey, wat wêreldwyd bekend is vir sy rolle in flieks soos How to Lose a Guy in 10 Days en Magic Mike, het Sondag gesê hy wil nie dadelik die politiek betree nie hoewel hy maande gelede onthul het dat hy beslis dié moontlikheid oorweeg.

Die 52-jarige akteur het in ʼn video wat op sosiale media geplaas is, gesê hy het al vir ʼn geruime tyd ʼn loopbaan in die politiek oorweeg.

“As ʼn kind wat in die klein dorpie Uvalde in Texas gebore is, het dit nooit by my opgekom dat ek eendag vir ʼn politieke leier oorweeg sou word nie.

“Dit is ʼn nederige en inspirerende pad om te oorweeg, maar dit is ook ʼn pad wat ek besluit het om nie nou te volg nie.”

Peilings vir volgende jaar se middeltermynverkiesings het getoon dat McConaughey veel beter sal vaar as Texas se huidige goewerneur, Greg Abbott. Abbott het verlede week aangekondig dat hy vir sy derde termyn as Texas-goewerneur sal staan.

Benoemings vir hierdie verkiesing sluit op 13 Desember.

McConaughey het vroeër vandeesmaand gebieg dat daar ernstige sprake was dat hy wel aan die verkiesing sou deelneem, maar hy het eindelik daarteen besluit.

Hy het ook nie sy getroudheid aan die Republikeine of liberale partye in Amerika verklaar nie, maar hom eerder as “neutraal” beskryf.

“Dit is nie omdat dit ʼn gemaklike grys-area of een van kompromie is nie. Ek dink eerder dit is ʼn gewaagde ruimte om in te wees. Dit is ʼn ruimte vir outlaws,” sê hy.

In die video gaan McConaughey voort deur te sê dat sy nadenke oor sy toekoms in die politiek hom laat besef het dat daar ʼn hele aantal probleme in die VSA is wat gepak moet word, dat “politiek ʼn nuwe doel benodig en daar verdeeldheid is wat genesing verg”.

Hy het onderneem om eerder sy tyd te gebruik om ondernemings en stigtings te ondersteun “wat maniere skep vir mense om sukses in die lewe te behaal”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Leeuwyfie ·

Skoenmaker hou jou by jou lees. Die maklikste en vinnigste manier om onpopulêr te word is om in politiek te gaan.

Kirst ·

Amerikaners luister eerder na bekendes as na politici. Hulle aanbid die sterre.

Misky ·

Wat is dit met die ouens wat nou deesdae vir goewerneur of selfs president staan. Ek het my pap gelag toe ek die hele Tiger King debakel gekyk het. Maar McConaughey kan beslis werk vir die doel en hy het beslis my stem – as ek dit kon gee vir hom

N ·

Die wat sy boek “Greenlights” gelees het sal stem dat hy die vermoë het om dit te kan doen

Eden ·

Dit bly ‘n raaisel hoekom akteurs uit Hollywood dink hulle sal goeie politici maak. Abbott is seker een van die beter goewerneurs in die VSA. Hollywood se mense is verder verwyderd van die werklikheid as die ANC “ministers”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.