Max dalk in binnebaan vir nóg ’n toekenning

Max Verstappen. Foto: Christian Bruna/AFP.

Ná sy kragvertoning verlede jaar op die renbaan staan Max Verstappen nou ook ’n kans om as die Laureus-toekennings se sportman van die jaar aangewys te word.

Die Red Bull-renjaer het die F1-wêreldkampioenskapstitel op dramatiese wyse in Abu Dhabi ingeoes toe hy vir Lewis Hamilton in die heel laaste ronde verbygesteek het.

“Dit is ’n wonderlike gevoel om vir hierdie gesogte toekenning benoem te word. Ons renspan het vir baie jare hard gewerk om die gaping [tussen Red Bull en Mercedes] kleiner te maak en ons het dit uiteindelik reggekry,” het die jong Nederlander gesê.

Die Laureus-organiseerders het ook nie op hulle laat wag om die heuningkwas uit te haal nie.

“Max Verstappen het sy eerste wêreldtitel ná een van die opwindendste tweestryde in die sport se geskiedenis gewen. Hy het verlede jaar tien keer met die wedrenlouere weggejaag, terwyl hy altesaam 18 keer op die podium gestaan het.”

Hy sal egter sake met Caeleb Dressel (swemmer), Eliud Kipchoge (marathon-atleet), Novak Djokovic (tennisspeler), Robert Lewandowski (sokkerspeler) en Tom Brady (Amerikaanse voetbal-ster) uitspook.

Onder die vroue is die pasgekroonde Australiese Ope-kampioen, Ashleigh Barty, een van die gunstelinge om as die uiteindelike wenner aangewys te word.

Alexia Putellas (sokkerspeler), Allyson Felix (atleet), Elaine Thomson (atleet), Emma McKeon (swemmer) en Katie Ledecky (swemmer) is die ander benoemdes.

Vanjaar se toekenningseremonie vind in April plaas.

Die Springbokke het destyds ná hul suksesvolle Wêreldbeker-veldtog in Japan met die span van die jaar-toekenning gespog, terwyl Rafael Nadal en Naomi Osaka in 2021 die sportman en -vrou van die jaar was.

  • Ander benoemdes vir 2022:

Span van die jaar: Argentinië (sokker), Barcelona (vrouesokkerspan), China (Olimpiese duikspan), Italië (sokker), Mercedes (F1) en die Milwaukee Bucks (basketbal).

Deurbraakspeler van die jaar: Ariarne Titmus (swem), Daniil Medvedev (tennis), Emma Raducanu (tennis), Neeraj Chopra (atletiek), Pedri (sokker) en Yulimar Rojas (atletiek).

Aanhouer van die jaar: Annemiek van Vleuten (fietsry), Marc Marquez (motorfietsry), Mark Cavendish (fietsry), Simone Biles (atletiek), Sky Brown (skaatsplankry) en Tom Daley (duik).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.