Meer as 600 sterf in Marokko-aardbewing

Inwoners soek skuiling op ʼn plein uit vrees vir naskokke (9 September 2023) (Foto: Fadel Senna/AFP)

Minstens 632 mense is dood toe ʼn aardbewing Marokko Vrydag getref het. Inwoners het in die middel van die nag vreesbevange uit hul huise gevlug.

Die aardbewing van 6,8 het om 23:11 (2211 GMT) sowat 72 km suidwes van die toeristebestemming Marrakesj plaasgevind, het die Amerikaanse Geological Survey (USGS) berig.

Sterk skuddings is ook in die kusstede Rabat, Casablanca en Essaouira gevoel.

“Ons het ʼn sterk skudding gevoel, en ek het besef dit is ʼn aardbewing,” het Abdelhak El Amrani, ʼn 33-jarige wat in Marrakesj woon, telefonies aan AFP gesê. “Ek kon die geboue sien beweeg. Ek het na buite gegaan en daar was baie mense. Mense was in skok en paniekerig. Die kinders het gehuil en die ouers was radeloos.”

Volgens voorlopige getalle is minstens 632 mense dood in Al-Haouz, Marrakesj, Ouarzazate, Azilal, Chichaoua en Taroudant.

Faisal Baddour, ʼn ingenieur, het gesê hy het drie keer die aardbewing in sy gebou gevoel.

“Mense het die strate ingevaar en daar was algehele paniek. Daar was gesinne wat buite geslaap het, want hulle was so bang vir die krag van die aardbewing. Dit het gevoel of ʼn trein naby ons huise verbygejaag het.”

Houda Outassaf, ʼn plaaslike inwoner, het aan AFP gesê hy het op die plein rondgeloop toe die grond begin skud het. “Dit was ʼn verbysterende sensasie. Ons is veilig, maar ek is steeds geskok. Minstens 10 lede van my familie is dood. Ek kan dit nie glo nie. Ek was twee dae gelede nog by hulle.”

Fayssal Badour, nog ʼn inwoner van Marrakesj, het aan AFP gesê hy het in sy motor gery toe die aardbewing plaasgevind het. “Ek het stilgehou en besef watter ramp dit is. Die geskree en gehuil was onuithoudbaar.”

Die ministerie van binnelandse sake het gesê “alle nodige hulpbronne is ontplooi om in te gryp en die betrokke gebiede by te staan”.

Plaaslike media het berig dit is die kragtigste aardbewing tot dusver in die land.

Die aardbewing is ook gevoel in naburige Algerië. Die siviele weermag het gesê geen skade of beserings is aangemeld nie.

Minstens 628 mense is in 2004 dood en 926 beseer toe ʼn aardbewing Al Hoceima in die noordooste van Marokko getref het. ʼn Aardbewing van 6,7 in 1960 in Agadir het die lewens van meer as 12 000 mense geëis. Die El Asnam-aardbewing van 7,3 in naburige Algerië in 1980 was een van die mees verwoestende aardbewings in onlangse geskiedenis. Minstens 2 500 mense is dood en 300 000 is dakloos gelaat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.