Miljoene Tesla-motors herroep

Tesla het miljoene motors herroep. (Foto: Justin Sullivan/Getty Images North America/AFP)

Die elektriese motorvervaardiger, Tesla, het Woensdag meer as twee miljoen motors herroep nadat daar fout met die motors se selfbestuurfunksie gevind is.

Die VSA se nasionale reguleerder het vroeër vandeesweek ʼn verklaring uitgereik waarin alle Tesla-motors wat tans op Amerikaanse en Kanadese paaie is, teruggetrek word.

Luidens ʼn verklaring wat uitgereik is deur die VSA se Nasionale Hoofwegverkeersveiligheidstelsel (NHTSA), het ʼn toename in ongelukke weens die onverantwoordelike gebruik van die motors se selfbestuurfunksie tot dié besluit gelei.

Die NHTSA het twee jaar gelede ondersoek begin instel na motors wat ʼn selfbestuurfunksie het, en hoe veilig dié motors vir padgebruikers is. Dié ondersoek, wat vroeër vandeesmaand voltooi is, dui volgens die reguleerder daarop dat talle bestuurders die selfbestuurfunksie wangebruik, wat tot ʼn toename in ernstige en dikwels noodlottige ongelukke gelei het.

Volgens die uitslag van die ondersoek, plaas bestuurders te maklik hul vertroue in die motors se selfbestuurfunksie, wat uiteindelik tot ongelukke kan lei. Tesla se instruksieblad dui aan dat daar van bestuurders verwag word om ten alle tye voor die stuurwiel te sit, hetsy hulle van die selfbestuurfunksie gebruikmaak of nie. Die NHTSA het bevind dat bestuurders egter dikwels nie agter die stuur is nie, en dat bestuurders nie hul aandag op die pad of die motor hou terwyl die selfbestuurfunksie gebruik word nie.

Alhoewel Tesla nie die uitslag van die ondersoek beaam het nie, het hulle daartoe ingestem om hul motors tot tyd en wyl te herroep. Sagtewareverstellings moet nou by elke Tesla-motor aangebring word om aan die NHTSA se veiligheidsvoorwaardes te voldoen. Dié verstellings kan egter aanlyn gedoen word, en daar word nie van eienaars verwag om daarvoor hul motors na ʼn handelaar te neem nie.

Van dié verstellings sluit in om bestuurders daaraan te herinner om steeds aandag aan die pad en die motor te gee terwyl hulle van die selfbestuurfunksie gebruikmaak, asook om hulle te herinner daaraan om hul hande ten alle tye steeds op die stuurwiel te hou.

Die motor kan selfs die selfbestuurfunksie afskakel indien daar bespeur word dat die bestuurder nie aktief besig is om op die pad te konsentreer nie.

Elon Musk, medestigter en uitvoerende hoof van Tesla, het gedurende die afgelope paar jaar die selfbestuurfunksie van die motors verdedig. Hy glo dat motors in die toekoms met volle outonomie op paaie sal funksioneer.

“Die NHTSA se ondersoek sal aktief bly terwyl ons die effektiwiteit van Tesla se verstellings moniteer,” het ʼn verteenwoordiger van die reguleerder gesê.

“Outomatiese tegnologie het baie potensiaal om veiligheid te bevorder, maar net as dit verantwoordelik gebruik word. Vandag se besluit is ʼn voorbeeld van hoe ons hierdie stelsels kan verbeter om veiligheid te prioritiseer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

piet ·

Wat’s die punt van ‘n selfbestuurfunksie as jy ten alle tye jou hande op die stuurwiel moet hou. LOL

hpven ·

Piet jy is reg, maar aan die anderkant, hier in Suid Afrika is mense wat nie eers ‘n voertuig op die pad kan hou nie al is hul hande op die stuurwiel! Dalk net tesame met die selfbestuur funksie bly die voertuig darem op die pad.

Anel ·

Hoe lui wil mense dan nog eord? As jy nie wil bestuur nie, kry vir jou ‘n bestuurder of maak gebruik van ‘n taxi of ‘n bus, maat my!!!! Onthou, die ding is ‘n masjien of robot of so iets en dit is veilbaar. Mens kan geen masjien vertrou nie, so alleen!!!!

Pieterbusa ·

Dit hang af van die “nut” wat die stuurwiel moet vashou…

Platkop ·

En ongelukkig is n masjien net beter in enige herhaalbare taak. Dis n robot/AI gaan al die tipe take beter en meer veilig kan doen. Daar gaan foute wees in die begin maar sal met n tyd uit gestruik word en verbeter word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.