Minstens 16 dood, 17 vermis in Maleisië-modderstorting

Brand- en reddingswerkers op die toneel ná ʼn grondstorting by ʼn kampeerterrein buite Kuala Lumpur in Maleisië (16 Desember 2022) (Foto: JBPM/Anadolu Agency/Anadolu Agency via AFP)

Minstens sestien mense is Vrydag dood tydens ʼn modderstorting by ʼn kampeerterrein op ʼn plaas in Maleisië, het beamptes gesê. Reddingsbeamptes is op soek na 17 persone wat nog vermis word.

Nor Hisham Mohammad, direkteur van die brand- en reddingsdepartement, het aan verslaggewers gesê teen 13:00 (0500 GMT) is 16 mense dood verklaar. “Die soektog is nou gefokus op die 17 vermiste persone.”

Volgens Nga Kor Ming, minister van plaaslike regeringsontwikkeling, sê 61 mense is veilig gevind ná die grondstorting naby Batang Kali, net buite die hoofstad Kuala Lumpur.

Veronica Loi, wat oornag by die terrein kamp opgeslaan en die grondstorting oorleef het, het aan AFP gesê haar gesin het gelê en slaap toe hulle skielik ʼn harde slag gehoor het.

“Die tent langs ons sʼn was heeltemal weg,” het sy gesê.

Honderde polisiebeamptes en reddingswerkers is by die hekke van die kampeerterrein opgemerk saam met grondverskuiwingstoerusting.

Die plaas waar die kampeerterrein geleë is, Father’s Organic Farm, het Vrydag sy Facebook-profielfoto na swart verander.

Nga sê die kampeerterrein word sonder ʼn lisensie bedryf en dat die eienaars gestraf sal word indien hulle in ʼn hof skuldig bevind word.

Beeldmateriaal wys groot bome wat omgeval het en voertuie wat platgedruk is. Soek- en reddingspersoneel dra koplampe en is met grawe doenig op soek na moontlike oorlewendes.

Grondstortings kom algemeen in Maleisië voor ná swaar reën, gewoonlik aan die einde van die jaar. Geen swaar reën is egter oornag in Batang Kali aangemeld nie.

Die regering het streng reëls ingestel wat betref ontwikkelings aan berghange.

Vier mense is in Maart dood ná ʼn grondstorting in ʼn woonbuurt in Kuala Lumpur. In 1993 is 48 mense dood toe swaar reën ʼn 12 verdieping hoë gebou weens grondstortings laat ineenstort het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.