Minstens 268 sterf in Indonesië-aardbewing

Inwoners probeer hul eiendom red uit beskadigde huise (22 November 2022) (Foto: Aditya Aji/AFP)

Die dodetal van ʼn aardbewing op die eiland Java, Indonesië, staan Dinsdag op 268. Reddingsbeamptes is steeds op soek na oorlewendes tussen die puin terwyl familielede begin het om hul geliefdes te begrawe.

Die episentrum van die vlak aardbewing van 5.6 het Maandag naby Cianjur plaasgevind, waar die meeste sterftes aangemeld is. Honderde persone is beseer en dosyne is vermoedelik onder puin vasgekeer.

Minstens 151 persone word nog vermis en meer as 1 000 is beseer, het Suharyanto, hoof van Indonesië se nasionale rampbestuuragentskap BNPB, tydens ʼn perskonferensie gesê. “Die fokus is steeds op die soektog en ontruiming van slagoffers. Dit is die prioriteit.”

Henri Alfiandi, hoof van Indonesië se nasionale reddingsagentskap Basarnas, het gesê meeste van die sterftes is kinders. “Hulle was by die skool. Dit was 13:00 en hulle het nog gesit en leer,” het hy gesê.

Die verwoesting deur die aardbewing is vererger deur ʼn golf van 62 kleiner naskokke wat Cianjur, ʼn dorp met sowat 175 000 inwoners, geskud het.

Die geologiese agentskap van die departement van energie en minerale hulpbronne het gesê ʼn analise wys dat die tipe grond in die gebied moontlik die impak van die aardbewing vererger het.

Indonesië is geleë in die Ring van Vuur, ook bekend as die Pasifiese Vuurgordel, ʼn gebied aan die rand van die Stille Oseaan waar gereelde aardbewings en vulkaniese uitbarstings plaasvind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.