Minstens 38 sterftes weens bomsikloon in VSA

Die uiterste koue word toegeskryf aan ʼn verskynsel wat ʼn “bomsikloon” genoem word (Foto: Freedom for Prejudice, Twitter)

Minstens 38 sterftes is reeds aangemeld weens ’n ernstige winterstorm wat die VSA en Kanada steeds knou.

BBC berig 34 mense is reg oor die VSA dood, met die stad Buffalo in die deelstaat New York wat die ergste getref is.

Die uiterste koue word toegeskryf aan ʼn verskynsel wat ʼn “bomsikloon” genoem word. Dié verskynsel vind plaas wanneer atmosferiese druk daal, wat swaar sneeu en sterk winde veroorsaak.

Vier sterftes is Saterdag in Kanada aangemeld toe ’n bus op ’n ysige pad naby die dorp Merritt, in die westelike provinsie van Brits-Columbië, omgeslaan het.

Die omvang van die winterstorm is ongekend en strek van Kanada tot so ver suid as die Rio Grande.

Voorspellers sê die storm sal in die volgende paar dae bedaar, maar die Amerikaanse Nasionale Weerdiens raai die publiek aan om nie sommer te reis nie tensy dit noodsaaklik is.

Maroela Media het vroeër berig meer as ʼn miljoen Amerikaanse kragverbruikers het Vrydag sonder krag gesit weens die storm, maar die kragsituasie het geleidelik herstel.

Duisende vlugte is gekanselleer, wat verhoed het dat baie mense hul gesinne met Kersfees kon bereik.

Die deelstaat New York se goewerneur, Kathy Hochul – ’n boorling van Buffalo – het gesê dit is Buffalo se mees verwoestende storm ooit.

“Dit is [soos] om na ’n oorlogsone te gaan. Die voertuie langs die kante van die paaie is skokkend,” het sy Sondagaand aan verslaggewers gesê.

Inwoners word steeds deur ’n “ lewensgevaarlike situasie” in die gesig gestaar en enigiemand in die gebied moet binnenshuis bly, het sy gesê.

Twaalf sterftes is in Erie County bevestig, met ’n paar slagoffers wat dood in motors of sneeuwalle gevind is.

Stormverwante sterftes is ook in Vermont, Ohio, Missouri, Wisconsin, Kansas en Colorado aangemeld. Suid-Florida se temperature het so laag gedaal dat iguanas gevries en uit bome geval het.

Die westelike Amerikaanse deelstaat Montana is die ergste deur die koue getref, met temperature wat tot -45 °C gedaal het.

In Kanada is die provinsies Ontario en Quebec die swaarste deur die storm getref.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.