Minstens 47 sterf in bomaanval in Pakistan

Gewapende magte hou wag oor die perseel waar ʼn selfmoordbom ontplof het in die Bajaur-distrik in die Khyber-Pakhtunkhwa-provinsie (31 Julie 2023) (Foto: Abdul Majeed/AFP)

Minstens 47 mense is Sondag dood en meer as 100 beseer tydens ʼn selfmoordbomaanval by ʼn politieke byeenkoms in Pakistan.

Lede van die Islamitiese Jamiat Ulema-e-Islam-F (JUI-F)-party het die geleentheid in die noordwestelike Khyber Pakhtunkhwa-provinsie bygewoon.

“Dit was ʼn verskriklike toneel,” het Fazal Aman (29), ʼn inwoner van Khar, Maandag aan AFP gesê. “Daar was liggame oral en mense het om hulp geroep.”

Dekor, insluitend hoede en serpe in JUI-F se swart-en-wit kleure, lê oor die toneel versprei waar mense dit agtergelaat het.

Die eerste begrafnisse het Maandag plaasgevind, insluitend twee neefs, onderskeidelik 16 en 17 jaar oud.

“Hierdie twee was baie ernstig en plat-op-die-aarde individue in ons familie,” het die 24-jarige winkelier Najeeb Ullah gesê. “Dit is ʼn absolute ongeregtigheid.”

Gulistan Khan, ʼn 40-jarige boer wat by ʼn nabygeleë hospitaal behandeling ontvang, het gesê hy was in die derde ry toe die bom afgegaan het net toe plaaslike JUI-F-leiers opgedaag het. “Dit was ʼn kragtige ontploffing. Ek is agteroor gegooi asof ek van die grond af opgetel is. Daar was vlamme oral, ek kon nie enigiets sien nie.”

Ondersoekbeamptes is Maandag nog op die toneel om alle bewyse te versamel.

Gewapende veiligheidsmagte het die toneel omring en omliggende paaie is met polisie-padblokkades versper.

Sohail Khalid, inspekteur-generaal vir anti-terrorisme in die streek, het aan AFP gesê die aanvaller het ongeveer 40 kg springstof gebruik. Koëllaers is ook gebruik om maksimum skade te veroorsaak.

Geen groep het tot dusver aanspreeklikheid aanvaar vir die aanval nie. Die plaaslike tak van die Islamitiese Staat het egter onlangs begin om JUI-F te teiken, ʼn sleutel-koalisievennoot in die regering.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.