Monargieë in ʼn moderne wêreld

Charles is nou amptelik die koning van die Verenigde Koninkryk. (Foto: Andrew Milligan / POOL / AFP)

Koning Charles III van Brittanje se kroning het plaasgevind presies 70 jaar na sy moeder koningin Elizabeth II se bestyging van die troon in 1953. Met die Britse monargie wat die grootste en prominentste ter wêreld is, het hierdie geleentheid opnuut die voortbestaan van monargieë in ʼn moderne en toenemend veranderende wêreld in die kollig geplaas.

Kenners is dit egter nie eens dat koning Charles III se bestyging van die troon baie vertroue inboesem vir die voortbestaan van die Britse monargie, en ander monargieë wêreldwyd, nie.

Oorblyfsels van ʼn vorige era

Volgens Jaco Kleynhans, hoof van internasionale skakeling by die Solidariteit Beweging, vervul die meeste monargieë in die Weste net ʼn simboliese rol waar absolute monarge, met uitvoerende magte, tot ander wêrelddele soos die Midde-Ooste beperk is.

Prof. André Duvenhage, politieke ontleder aan die Noordwes-Universiteit, voeg by: “Die feit dat die meeste monarge nie meer uitvoerende leierskap het nie, beteken egter nie dat mense nie meer daarmee identifiseer of dat hulle irrelevant is nie.”

In 2023 het 43 state wêreldwyd nog ʼn vorm van monargie oor hul lande gehad, met 15 van dié wat koning Charles III as hul monarg erken – dit is sowat 22% van alle VN-lidlande. Dit strek van absolute monargie tot grondwetlike monargie, federale monargie en gemengde monargieë wat gelei word deur konings, koninginne, emirs, keisers, keiserinne en sultans.

Die kroning van Brittanje se koning Charles III is ook in Indië gevier (Foto: SUJIT JAISWAL / AFP)

Duvenhage en Kleynhans stem saam oor die belangrike verenigende rol wat monarge se simboliese waarde in krisistye kan speel omdat hulle polities neutraal is. Die vraag is egter hoe goed monargieë, veral in die Weste, nog hierdie rol vervul.

Oud, maar nog nie uitgedien?

“In die huidige tyd waarin ons deur groot veranderinge wêreldwyd gaan, is daar ʼn teruggryping na die historiese en is dit asof die monargie opnuut baie belangrik is,” verduidelik Duvenhage.

Kleynhans meen egter monargieë in die Weste is op ʼn afwaartse trajek.

“Die koningshuise was veral sedert die sogenaamde verligtingsjare so bang dat die monargie opgehef kon word dat hulle die magte waaroor hulle wel nog beskik, nooit regtig gebruik het nie. Daar waar hulle ʼn noodsaaklik verenigende rol in geweldig gepolariseerde tye kon speel, het hulle tot ʼn groot mate misluk.”

Navorsing deur YouGov in aanloop tot koning Charles se kroning toon minder as die helfte van Britte glo ook die monargie is hier om te bly – ʼn groot afname van die twee‑derdes wat in 2011 vertroue in dié instelling se voortbestaan gehad het.

(Bron: YouGov)

Verder toon dié navorsing die jeug se kwynende optimisme oor die monargie en hul koning. Waar bykans 60% van jeugdiges in 2011 die voortbestaan van die monargie gesteun het, het dit tot net 36% voor koning Charles III se kroning gedaal.

(Bron: YouGov)

Die jeug is ook glad nie meer so oortuig van die feit dat die koningshuis ʼn goeie ding vir die land is nie.

(Bron: YouGov)

Duvenhage is egter meer optimisties as dié jeugdiges.

“Buiten die reklamewaarde wat dit het, speel dit ʼn konstruktiewe rol vir die deursnee‑Brit. Dit is vir mense steeds belangrik weens historiese redes asook weens die rolmodel-funksie wat koninklikes vervul. Om te sê die Britse koningshuis het nie plaaslik of internasionaal relevansie nie, sal ʼn fout wees.”

Ongewilde koning

Kleynhans vrees egter koning Charles III het reeds die begin van die einde van die Britse monargie ingelei.

Brittanje se koning Charles III verlaat Westminster Abbey ná die kroningseremonies op 6 Mei 2023 (L)
en sy moeder koningin Elizabeth II tydens haar kroning op 2 Junie 1953 (R). (Foto: Ben Stansall en – / verskeie bronne / AFP)

“Koningin Elizabeth II was baie gewild en het haarself goed gedefinieer. Koning Charles praat nie vanuit dieselfde Christelik, tradisionele konserwatiewe verwysingsraamwerk as sy ma nie. Hy probeer homself eerder met die nuwe ‘woke’ wêrelddenke belyn, wat ʼn fout is. Die vraag is dan of die lyn van tradisie nie reeds gebreek is nie.”

Koning Charles III is heelwat minder gewild as wat sy moeder was met net 6 uit 10 Britte wat ʼn positiewe siening van hom het – koninklikes soos prins William en sy vrou, prinses Catherine, sowel as prinses Anne, is meer gewild as die huidige koning.

Navorsing deur YouGov toon verder dat Charles voor sy kroning min vertroue as toekomstige koning ingeboesem het met net ʼn derde van Britte wat voor koningin Elizabeth II se afsterwe gemeen het hy sal ʼn goeie toekomstige koning wees.

(Bron: YouGov)

Duvenhage meen weer die Britse koningshuis sal aanpas by komende uitdagings: “Monargieë neem ander vorme aan en pas aan by die veranderende wêreld. Dit is nie iets wat jy bloot tot niet kan maak nie.”

Dit is juis hierdie veranderende wêreld wat Kleynhans bekommerd maak.

Individualisering en fragmentering

“Dit is konserwatiewe mense – mense wat in volkskap glo – wat die koninklikes ondersteun. Die monargie verloor egter sy relevansie en bestaansreg as die volk nie meer goed gedefinieer is nie en absolute individuele regte eerder seëvier – veral as die koning hom met hierdie denke belyn,” waarsku Kleynhans.

Volgens Duvenhage is die voortbestaan van monargieë nie noodwendig in stryd met hierdie veranderende wêreld nie.

“Wêreldwyd is daar nou die strewe na outonomie en selfstandigheid. Heel dikwels manifesteer dit in kleiner en meer state asook meer identiteite. Daardie soeke na identiteit en selfstandigheid hoef nie noodwendig los te staan van die verbintenis aan ʼn koning en koningshuis nie.”

’n Koets met Brittanje se prins William, Catherine, prinses van Wallis en hul kinders ry verby anti-monargie-betogers ná die kroningseremonie vir Brittanje se koning Charles III. (Foto: VIOLETA SANTOS MOURA / POOL / AFP)

Hoe raak dit ons?

Die vraag is dan hoe dit Afrikaners raak wat buitendien nie in ʼn koninklike tradisie leef nie.

“Afrikaners het weens ons historiese omstandighede, soos die Anglo-Boereoorlog, die tradisie reeds vroeg met die Britte gebreek en daardie koloniale tradisie vervang met ʼn republikeinse tradisie wat ons in die historiese verloop van gebeure veel meer buite die koninklike tradisie plaas,” verduidelik Duvenhage.

Volgens Kleynshans is hierdie gebeure tog vir ons van belang omdat die totale verval van die Christelike Weste ook deur die krisis van die Britse koningshuis, wat hulle self sal ontken, vergestalt word.

Brittanje se koning Charles III met die St Edward’s Kroon op sy kop tydens sy kroningseremonie. (Foto: Aaron Chown / POOL / AFP)

“Afrikaners wat kyk na die Weste en altyd soekend is na wie die fakkel vir die Christelike Weste aan die brand hou, moet kennis neem van die einde van dié tradisie in Brittanje en die skokgevolge daarvan in die samelewing.

“Dit is altyd sleg wanneer iets soos ʼn koningshuis as draer van kontinuïteit en tradisie tot niet gaan, maar dit is ongelukkig ʼn ondergang wat lank reeds met ons is. Die meeste monargieë in die wêreld gaan nog in hierdie eeu uitsterf,” sluit Kleynhans af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

George ·

Maar n paar suurknolle. Julle besef wie soos die planke lyk wat vir uuuuure daar gestaan het, om n bortjie op te hou, wat absoluut niks beteken nie. Net soos Saffas se cyril is nie hul president nie, doen ons maar wat gese word.

Gaitsigubib ·

Ek kan in ‘n mate met jou saamstem, want ek dink die leekoppe wat spaghetti gooi op skaars kuswerke omdat hulle self nie die vermoe het om konstruktief of skeppend te wees nie, is ook die wat eerder protesteer, as om n dag se eerlike werk in te sit. Wat ek nie verstaan nie is Suid Afrikaners se oenskynlike bekoring met die kroon. Ons het immers n enorme prys betaal in terme van lewensverlies, en lyding onder Britse vergrype. Ons is ook nie die enigste land wat deur hulle geteister was nie.

Cherokee ·

Nou ja, waarop aarde kan jy ‘n koningklike wees net oorlat jy gelukkig genoeg was om in die regte familie gebore te word! Wat ‘n simpel lot! Sy status is buitendien slegs tradisioneel.

Minnie ·

Die Britse koningshuis en mornagie kos die belastingbetalers jaarliks miljoene ponde. Behalwe dat hul “goed lyk”, beteken hul niks vir hul eie en ander lande nie.

Nommer 7 ·

Minnie, die monargie bring 20 maal soveel geld as wat hul kos in. Charles se groente plase skenk alle groente aan liefdadigheid. Daar is nog soveel ander goeie goed wat hul doen….. Lees bietjie op oor die monargie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Charles se “boerdery” is ‘n tydverdryf. Om groente by mense in nood te kry is ‘n logistieke uitdaging en kos geld. Daar is ook nie geld om dit te kook nie. So, die groente vrot in die lande.

Oosieoos ·

Dis belaglik in a moderne beskawing raak onslae van die parasiete wat net op belating geld teer. SA regering dieselfde

George ·

So ook dan die afrikaner. Tensy jy nie die regte pigment is nie, is die afrikaner geskiedenis meer gevlek as enige iets anders.

Gaitsigubib ·

Om verder aan te las by my kommentaar bo, wil ek noem dat n ander benaming vir n monargie is n diktatorskap. Die verskil is, n monargie is n diktatorskap binne en buite sy eie grense i.p.v slegs in sy eie land. SA het onder beheer van die monargie gestaan tot in 1961 maar tog vat die Britanje geen aanspreeklikheid vir apartheid nie? “Bloubloed” is nie juis n kompliment nie want dit ontstaan a.g.v inteling. Ek hoor dit het maar n effek op die verstand, so dalk verklaar dit die wreedheid waarvoor die monargie bekend geword het.

annie ·

Charles is skaamteloos verwaand. Hy klim oor sy vrou se lyk om met sy skelmpie wat ook haar man verkul het in prag en praal voor sy verarmende volk te spog en dit was nogal ‘n gedoente veral omdat hy slegs in naam regeer en geen uitspraak mag lewer nie, alhoewel dit te betwyfel is of hy sy mond sal hou. Daarvoor was sy ma bang en het maar uitgehou om dit nie te beleef nie.

Marthinus W ·

prof Duvenhage se analise maak sin. Die Russe is tans die draers van Christendom, en het die Christene openlik in Sirie en nou Oekraine beskerm, maar die antichris-media beskryf dit anders.

William se eerste buitelandse besoek was aan Saoedia-Arabie; daar moet olie vir die paleis se grassnyers wees. Charles boer organies, al vir jare, en is sedert die 1970s gekant teen die gebruik van onkruiddoders en gineties-aangepaste voedsel. Hy verdien nogal baie daarmee, en die Britte sien dit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.