Mosambiekse korrupsieskandaal swaar gestraf

Ndambi Guebuza, seun van oudpres. Armando Guebuza, in die hof. (Foto: Alfredo Zuniga / AFP)

’n Hof in Mosambiek het Woensdag die seun van oudpres. Armando Guebuza en twee voormalige spioenbase elkeen 12 jaar tronkstraf opgelê vir hul aandeel in ’n grootskaalse korrupsieskandaal wat dié land se regering lamgelê het.

Ndambi Guebuza, asook die voormalige hoof van sekuriteit en intelligensie, Gregorio Leao, en die voormalige hoof van ekonomiese intelligensie, Antonio do Rosario, is onder die 19 beskuldigdes in die opspraakwekkende saak. Laasgenoemde het aan die hoof gestaan van drie staatsondernemings wat miljarde rande onwettig geleen het.

Agt beskuldigdes is Woensdag in ’n hof in Maputo vrygespreek terwyl die res van hul medebeskuldigdes vonnisse van tussen 10 en 12 jaar opgelê is.

Leao en Do Rosario is skuldig bevind aan geldverduistering en magsmisbruik, terwyl Guebuza skuldig bevind is aan onder meer aanklagte van geldverduistering, geldwassery en misdadige verbintenis.

Die vonnisse volg nadat staatsbeheerde maatskappye in dié verarmde land in 2013 en 2014 ’n reusagtige bedrag van $2 miljard onwettig by internasionale banke geleen het om ’n tuna-vissersvloot en waarnemingsvaartuie te koop.

Die regering het inligting oor die lenings van die parlement en lede van die publiek weerhou en die geld is direk aan drie maatskappye betaal, wat deur Rosario bestuur word. Rosario het eindelik tydens die verhoor na homself as ’n “super- uitvoerende hoof” verwys.

Toe die “verborge skuld” uiteindelik in 2016 die lig sien, het die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) en ander skenkers hul finansiële steun afgesny, wat ’n soewereine skuldwanbetaling en geldeenheid-ineenstorting in Mosambiek veroorsaak het.

’n Onafhanklike oudit het intussen bevind $500 miljoen van die geld wat geleen is, is na onbekende begunstigdes herlei. Die geld is steeds skoonveld.

Regter Efigenio Baptista het tydens die vonnisoplegging gesê die misdade wat gepleeg is, het gevolge meegebring “wat vir geslagte sal duur”.

Baptista het ook gesê die bedrogspul het “die verarming van duisende Mosambiekers vererger”.

“Die land het bekend geraak om die ergste redes. Die beskuldigdes moes as hoë amptenare van die staat eerder [die land se] voogde gewees het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Agge nee ·

En kyk, tot Mosambiek stuur staatskapers tronk toe. Ons kán by die bure gaan leer.

Watsenaam ·

Ons het by hulle geleer. Nou moet die howe en die regering net bykom.

domheks ·

Ek dink die meeste geldjies is in SA versteek. Want almal is mos welkom hier.

Sean ·

Is dit swaar straf?????? Hahahaha uit na 5 jaar en dan n skatryk vry man Ek wil ook!!

Marc ·

Dit lyk vir my dat iemand by die IMF nie omsigtigheid en hul hand in die koek gehad

Perdeby ·

Mooi so maar SA lees dit elke keer mis, maar dis jammer want ek sien dit is die Mosambiekse korrupsieskandaal swaar gestraf wat tronk toe gestuur is.

Watsenaam ·

Die tronk is n lekker plek in vergelyking wat Suid Afrikaners nou deurmaak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.