Ná onluste verbied Frankryk vuurwerke vir Bastilledag

Franse onlustepolisie staan wag tydens botsings in Lyon in die suidooste van Frankryk (30 Junie 2023) (Foto: Jeff Pachoud/AFP)

Frankryk het die verkope, besit en vervoer van vuurwerke verbied vir die Franse Nasionale Dag, ook bekend as Bastilledag, op 14 Julie. Dit volg ná onluste uitgebreek het toe ʼn tiener deur ʼn polisiebeampte doodgeskiet is.

Vuurwerke was van die wapens wat tydens die betogings gebruik is nadat ʼn polisiebeampte ʼn 17-jarige tiener op 27 Junie doodgeskiet het toe hy in ʼn huurmotor in die woonbuurt Nanterre voorgekeer is.

“Om die risiko van ernstige ontwrigting aan die openbare orde tydens die 14 Julie-feestelikhede te voorkom, word die verkope, besit, vervoer en gebruik van pirotegniese artikels en vuurwerke tot 15 Julie verbied,” lui ʼn verklaring deur die regering wat Sondag in die amptelike staatsjoernaal gepubliseer is.

Die verbod sluit professionele persone en munisipaliteite uit wat tradisionele vuurwerkvertonings vir Bastilledagvieringe reël.

Eerste minister Elisabeth Borne het Saterdag aan die dagblad Le Parisien gesê die regering sal “alles in sy vermoë doen om Franse te beskerm”, uit kommer oor ʼn moontlike herlewing in die onluste.

Vuurwerkvertonings is ʼn kenmerk van Bastilledagvieringe. Dit word ook gereeld tydens betogings in die land gebruik.

Wydverspreide betogings het in dié land uitgebreek nadat die 17-jarige Nahel M., wat van Algerië afstam, deur ʼn polisiebeampte doodgeskiet is. Dit het tot die ergste stedelike geweld in die land gelei sedert 2005.

Meer as 3 700 mense is in hegtenis geneem sedert Nahel se afsterwe insluitend minstens 1 160 minderjariges, aldus amptelike syfers.

Die Franse polisieman wat daarvan beskuldig word dat hy die tiener doodgeskiet het, ontken dat hy gedreig het om ʼn “koeël in die kop” van die seun te sit voordat hy skote op die slagoffer se gehuurde motor afgevuur het.

Die Franse Nasionale Dag word sedert 1880 elke jaar op 14 Julie gevier. Die dag gedenk die Fête de la Fédération wat gehou is tydens die eerste viering van die bestorming van die Bastille wat op 14 Julie 1789 tydens die Franse Rewolusie plaasgevind het. Die bestorming van die Bastille is gesien as ʼn simbool van die opstand van die moderne Franse nasie en die versoening van al die Franse binne die grondwetlike monargie wat die Eerste Republiek voorafgegaan het en die einde van absolute monargie in Frankryk aangedui het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Niklaas ·

Ja, die Franse betaal nou die prys vir al daardie aankomelinge in die land vanaf Sirië en sulke plekke , wat nou elke geleentheid om winkels te stroop met beid hande aangryp.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.