Namibiese boere op hul knieë oor brande

(Foto: Verskaf)

Wegholveldbrande wat al vir ’n vierde dag in die verre suide in Namibië woed, het boere op hul knieë.

Boonop herstel hierdie boere nog van ’n verwoestende sprinkaanplaag wat vroeër die jaar in die omgewing uitgebreek het. Voor dit moes hulle ’n 12 jaar lange droogte trotseer.

“Hierdie boere het jare saam gebid vir reën, toe gebid teen die sprinkane en is nou weer op hul knieë oor die brande. Die rampe hou net nie op nie,” sê Henriëtte le Grange, voorsitter van Droogtehulp Namibië.

Volgens Le Grange het die brand Dinsdag in die Karasberge uitgebreek en reeds so versprei dat meer as 100 000 ha se weiding afgebrand het.

“Die brand hardloop tans in ’n oostelike rigting en die vuurlyn is 70 km lank.”

Le Grange sê die brand het ontstaan weens ’n klip wat onder ’n boer se bakkie uitgeskiet en teen ’n ander klip geskiet het, wat toe ’n vonk laat ontstaan het.

Altesaam 14 plase is deur die brand geraak, met ’n paar wat geheel en al tot op die grond afgebrand het.

“Daar lê verskriklik baie vee dood.”

Vier van die plase waar die brand geblus is, het weens die sterk winde weer opgevlam.

Volgens Le Grange maak die windrigting wat gedurig verander brandbestryding moeilik. Boonop maak die bergagtige terrein dit moeilik om orals nasorg te doen.

Boere en vrywilligers, asook brandweerspanne van Karasburg en Grünau, spook onverpoos om die brande te blus.

“Hierdie twee dorpe se brandweerstasies is egter nie goed genoeg toegerus om die brande alleen te takel nie.”

Daar is ook nie genoegsame fondse om lugsteun in te span nie. Volgens Le Grange is die boeregemeenskap aan hul eie genade oorgelaat omdat hulle geen hulp van die regering kry om die brande te bestry nie.

“Die boere is moedeloos verby en gaan Vrydag bymekaarkom om saam teen die brande te bid. Baie van die boere is pensioenarisse en weet nie hoe om weer na hierdie ramp op te staan nie.”

Oorvloedige reën die afgelope seisoen en oorvloedige hooi op die veld het die ramp vererger.

Le Grange het namens Droogtehulp Namibië pleidooie gerig aan ander boere om voer aan die boere wat deur die brande geraak is, te skenk.

“Ons wil ook na Suid-Afrika om hulp uitreik.”

Daar het Woensdag ’n aparte brand tussen Stampriet en Mariental – sowat 250 km van Keetmanshoop – uitgebreek. Volgens Le Grange was die brand teen Vrydag 04:00 geblus, maar het sowat twee ure later weer opgevlam.

“Die brand is egter nie so buite beheer soos die brand in die verre suide nie.”

Die verre suide (die omgewings van Grünau, Karasburg, Ariamsvlei, Ai-Ais en Warmbad) het tot in April vanjaar onder ’n sprinkaanplaag gebuk gegaan. Die plaag het in November verlede jaar toegeslaan met groot swerms wat oor die Oranjerivier ingekom het.

Plase oor ʼn afstand van 100 km – sowat 20 tot 30 km suid van Grünau tot teen die Oranjerivier – is hoofsaaklik onbewoon.

Boere was nie altyd toegerus om die sprinkane te bestry nie en volgens Le Grange het die regering ook nie bestrydingsmiddels beskikbaar gestel nie. Baie boere moes die hand diep in eie sak steek om self gif te koop.

Volgens Le Grange moes hulle tot R400 000 opdok om die sprinkaanplaag te beveg.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Andrè ·

En hier dog ek dis net in suid afrika wat so gesukkel afgee met die goewerment saam

Andries ·

“die brand het ontstaan weens ’n klip wat onder ’n boer se bakkie uitgeskiet en teen ’n ander klip geskiet het, wat toe ’n vonk laat ontstaan het” klink darem baie onwaarskynlik en hoe weet hulle dit?
of is dit wat jy sê vir die stompie wat by die motorvenster uitgegooi is.

Annelie ·

Die wit gemeenskap en ja daar is van die bruin gemeenskap ook wat al is hul gestroop van so baie hulle nog steeds op hul kniee gaan want waar sal hul hulp vandaan kom.

Nettie ·

My hart gaan uit na hierdie boere. Ek verstaan nie hoe regerings nie besef hierdie is die mense wat hulle kinders se magies vol hou nie. Help hulle!!! Dit maak mens moedeloos. Ek hoop daar’s organisasies wat kan uitreik na hierdie mense. Ek weet ons is dun gesmeer. Ons sal bid vir uitkoms vir elke boer wat so swaarkry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.