Navo begin met grootste lugmag-oefening nóg

(Foto: Tobias Christopher Lorenz/Twitter)

Navo sal Maandag in Duitsland met die grootste lugmag-ontplooiingsoefening in dié alliansie se geskiedenis afskop.

Die oefening, genaamd Air Defender 2023, word deur Duitsland gelei en altesame 10 000 militêre personeel en 250 vegvliegtuie van 25 Navo-lande, asook van bondgenote soos Japan en Swede, sal daaraan deelneem.

Die oefening duur tot 23 Junie.

Die operasie is gemik op verbeterde samewerking tussen Navo-lande se weermagte. Dit moet ook paraatheid verskerp sodat soldate hulself teen hommeltuie en kruismissiele kan beskerm ten tyde van aanvalle op stede, lughawens of seehawens binne Navo-gebiede.

Lt.genl. Ingo Gerhartz van die Duitse lugmag het verlede week met die bekendstelling van die operasie gesê Air Defender is in 2018 gedeeltelik beplan as ʼn opvolgstap op die Russiese anneksering van die Krim-skiereiland vier jaar tevore. Hy sê egter die huidige oefening is nie “op enigiemand gemik nie”.

Gerhartz sê terwyl Navo elke sentimeter van sy grondgebied sal verdedig, sal die oefening byvoorbeeld nie enige vlugte in die rigting van Kaliningrad – die Russiese enklawe wat aan die alliansielidlande Pole en Litaue grens – stuur nie.

“Ons is ’n verdedigingsalliansie en dit is hoe hierdie oefening beplan word,” sê hy.

Die Amerikaanse ambassadeur na Duitsland, Amy Gutmann, sê die oefening sal “die behendigheid en spoed van die geallieerde mag wys” en het ten doel om ʼn boodskap aan lande, ook Rusland, te stuur.

“Ek sal redelik verbaas wees as enige wêreldleier nie kennis neem van wat dit van die gees van die alliansie wys nie, die krag van die alliansie – en dit sluit mnr. [Wladimir] Poetin in,” het sy met verwysing na die Russiese president gesê.

“Deur saam te werk, word ons mag vermenigvuldig,” sê Gutmann.

Rusland se oorlog teen Oekraïne het die Westerse militêre alliansie opnuut versterk nadat dit 75 jaar gelede gestig is om die destydse Sowjetunie die stryd aan te sê.

Finland en Swede, wat lank hul neutraliteit behou het om konflik met Moskou te vermy, het ná Rusland se inval van Oekraïne in Februarie verlede jaar al twee gevra om by Navo aan te sluit.

Reuseoperasie

Die operasie sal opleiding op operasionele en taktiese vlak insluit en sal hoofsaaklik in Duitsland plaasvind, maar ook met oefeninge in die Tsjeggiese Republiek, Estland en Letland.

Die Duitse kanselier, Olaf Scholz, sal vlieëniers Vrydag by die Schleswig-Jagel-vliegveld in die noorde van Duitsland besoek.

Genl. Michael Loh, direkteur van die Amerikaanse Air National Guard, het gesê Navo se pligte is by ʼn “draaipunt”.

“Wêreldwyd het daar baie aan die strategiese landskap verander, maar veral hier in Europa,” het Loh gesê.

“Die oefeninge sal fokus op die aanvulling van die permanente teenwoordigheid van die Verenigde State in Europa, sowel as opleiding op ʼn groter skaal as wat gewoonlik op die vasteland bereik is.”

Volgens Loh sal baie van die alliansievlieëniers vir die eerste keer saamwerk.

“Dit gaan oor die bevordering van bestaande verhoudings, maar ook die bou van nuwes met hierdie jonger generasie vlieëniers. Dit gaan dus daaroor om nou te bepaal wat dit beteken om teen ʼn groot moondheid te staan te kom in ʼn groot toets van mag.”

Gutmann sê hoewel daar geen planne was om Air Defender ʼn herhalende oefening te maak nie, het Navo geen begeerte dat dit die laaste een moet wees nie.

Gevra oor moontlike ontwrigting van burgerlike lugvervoer tydens die oefening, het Gerhartz gesê die beplanners sal alles in hul vermoë doen om vlugvertragings of kansellasies te beperk.

Duitse owerhede het gewaarsku dat vlugskedules egter wel deur die oefeninge beïnvloed kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

hpven ·

Ramaphosa, kyk en leer voor jy weer raad aan ander lande uitdeel. Dalk net dalk sien jy iets raak om ons eens funksionele weermag te red.

Goldy ·

China is maar net die weste se industrieele gebied vir die afgelope paar dekades, die kaders daan dit nog besef soosbeloftes van geld invloei nie gaan bebeur nie.

Andrew ·

Die generaals is bly, die wapen vervaardigers is bly. Die hele weste het hulle militere begroting verdubbel so daar is nou weer baie geld om rond te gooi.

annie ·

Navo se verwekomingskomitee vir sy se nuwe baas? Is die oefeninge beplan as voorloper vir WW3? Die grootse oefeninge klink na ‘n ongeluk wat ‘n plek soek om te gebeur… ‘n antiklimaks?

JohanR ·

Tensy Poetin ‘n rooi knoppie druk dink nie hy sal nou ‘n kaans teen NAVO staan nie. Maar dan ook sal die China en daai 3ft 7duim ou met die slegte haarsny van Noord-Korea betrokke raak.

Republikein in die Wes Kaap ·

Nee wat, Amerikaners, Britte en ander Navo troepe wil nie meer in grootskaal in die vreemde gaan veg en sterf vir halstarige politici se drome nie. Selfs China en Noord Korea wil ook nie vir ‘n ander land loop veg nie.

Marthinus W ·

Navo n “verdedigingsalliansie”! Dis seker hoekom hulle Joegoeslawie vir 78 aaneenlopende dae, vanaf 24 Maart tot 10 Junie 1999 gebombardeer het. Meer as 2500 dood, waaronder 87 kinders. In hierdie gebied praat hulle van die New American Terrorist Organisation. Dis seker ook hoekom Navo Libie ingestorm het en Gadaffi vermoor het, en in Sirie en Afganistan bedrywig was. En nou wil hulle uitbrei Asie toe…

Hierdie oefening het twee redes: om hulself goed te laat voel oor die mislukking in Oekraine, en om euwel onder die dekmantel te doen. Volgens Seymour Hersh het hulle juis so n oefening gebruik om die plofstof vir die opblaas van Nord Stream 2 te plaas.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.