‘Nirvana-baba’ se regspad eindig

Spencer Elden in 2016. Hy hou die Nirvana-albumomslag vas waarop hy as baba verskyn het. (Foto: Facebook)

ʼn Amerikaanse regter het Vrydag vir die laaste keer Spencer Elden (31), die man wat verlede jaar die rockgroep Nirvana hof toe gesleep het, se saak van die hofrol geskrap.

Elden is as baba vir die omslag van die groep se 1991-album, Nevermind, afgeneem. Hy voer aan dat sy naakte verskyning op die omslag op seksuele kindermishandeling neerkom.

Elden is in 1991, toe hy vier maande oud was, kaal afgeneem in ʼn swembad waar hy reik na ʼn dollarnoot aan ʼn vislynhoek, ʼn foto wat een van die mees ikoniese albumomslae van alle tye geword het.

Die saak is in Januarie van die rol geskrap, maar Elden het weer aansoek gedoen om die saak voort te sit. Die regter het egter bevind Elden het te lank gesloer om te beweer hy word uitgebuit.

Elden se regspad het nou geëindig en hy kan nie heraansoek vir die saak doen nie, maar sy regspan het aan mediabronne in die VSA gesê hulle beplan om teen die uitspraak te appelleer.

Volgens hofdokumente het Elden ook nooit enige vergoeding vir die foto ontvang nie en hy het minstens $150 000 (sowat R2,6 miljoen) geëis van elkeen van die rockgroep se oorlewende lede, Dave Grohl en Krist Novoselic, Courtney Love, die kurator van Kurt Cobain se boedel, die fotograaf Kirk Weddle, die kunsregisseur Robert Fisher en ʼn aantal bestaande of voormalige platemaatskappye wat die album oor die afgelope drie dekades versprei het.

Die albumomslag van Nirvana se ‘Nevermind’, wat in 1991 uitgereik is.

Elden het in 2021 die saak geopen en aangevoer dat hy steeds binne sy regte optree om ʼn klag oor die dekade oue foto aanhangig te maak, aangesien hy aan “uitermatige en permanente emosionele stres” ly en dat hy gevolglik ʼn “lewenslange verlies aan inkomste” het.

Die Los Angeles-regter het Vrydag gesê Elden het sy saak tien jaar te laat geopper vir die wet van verjaring om geldig te wees. ʼn Verdedigingsadvokaat het dié uitspraak verwelkom en gesê die saak was “merieteloos”.

Nirvana het in Desember verlede jaar reeds in die mosie aangevoer dat die wet van verjaring meer as ʼn dekade gelede verval het en aangevoer Elden se bewering dat die foto kinderpornografie is, is “nie ernstig nie”.

Elden het ook die albumomslag verskeie kere herskep, onder meer vir die album se 25ste herdenking. Weddle, die oorspronklike fotograaf, was ʼn vriend van sy pa, het die familie in 2008 aan NPR gesê.

Hulle het ʼn swempartytjie gehou waartydens Elden onder water afgeneem is vir die rockgroep, wat toe nog onbekend was, se albumomslag. Elden se ouers is glo $200 (sowat R3 200) betaal vir die oorspronklike fotosessie.

Nevermind het uiteindelik met ʼn verkope van 30 miljoen kopieë wêreldwyd een van die topverkoperalbums van alle tye geword, met treffers soos “Smells Like Teen Spirit” wat die hoeksteen van die Amerikaanse popkultuur geword het.

Bykomende bron: BBC

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Madeleine ·

Hy vat net n vet kans tot rykdom!!
Sy ouers Het Mos toestemming gegee

domheks ·

Kan nie eers op die foto sien of dit ‘n dogtertjie os seuntjie is nie! Hoekom kla hy? Vir duisende $$$

thejudge ·

Dit is bietjie gesensor. Die oorspronklike lyk HEELWAT anders.

Perdeby ·

Hy was 4 maande oud gewees, en sy ouers het die volmag gehad vir toestemming. Hy weet nie eers daarvan nie. Arme sot, gedink hy gaan gou ryk word.

twaalfboor ·

Ag ASSEBLIEF, niemand het eers geweet dis jy nie todat jy ñ saak gemaak het. Hoe is jy emosioneel geknou? Get a life.

Antie Sarie ·

Toe moet hy sy oorwinnings uithang geleentheid kanseleer.

blia ·

Ons almal het al ‘n kaal baba gesien. Jy beledig ware slagoffers van seksuele kindermishandeling deur jouself in daardie katagorie te wil plaas. Sies vir jou.

Andrew ·

“uitermatige en permanente emosionele stres” ly en dat hy gevolglik ʼn “lewenslange verlies aan inkomste” het” , klink of hy n ouer kan wees.

Carolina ·

Hierdie ou moet maar ‘n Sielkundige gaan sien en sluk maar jou pilletjie vir jou emotionele stress en kry vir jou ‘n werk by MacDonalds!

RIAAN ·

Hy het van Suid Afrika se appel suksesse gelees … onder Z

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.