Nog ʼn verdagte aangekeer oor Moskou-aanval

‘n Roubeklaer by ‘n tydelike gedenkteken vir slagoffers van die skietery by die Crocus-stadsaal in Rusland. (Foto: NATALIA KOLESNIKOVA / AFP)

ʼn Russiese hof het Vrydag gelas dat nóg ʼn verdagte aangekla word van terrorisme, ná afloop van die dodelike aanval op ʼn konsertsaal in Moskou. Dit bring die getal verdagtes wat aangehou word in aanloop tot die hofsaak op 12 te staan.

Dit sluit in vier mans wat verlede naweek op aanklag van terrorisme in die hof verskyn het. Hulle word daarvan aangekla dat hulle tientalle konsertgangers doodgeskiet en toe die Crocus City-konsertsaal aan die brand gesteek het. Altesaam 144 mense is nou al in die aanval, wat as die dodelikste in dekades in Rusland beskryf word, dood.

Die Basmanny-distrikshof het Vrydag opdrag gegee dat Nazrimad Lutfulloi, ʼn inwoner van Tadjikistan in sentraal-Asië, ook tot die verhoor op 22 Mei aangehou word. Hy sal nou saam met agt ander mense aangehou word. Dit is nog nie duidelik wat van die ander drie gaan word nie. Twee van die verdagtes het reeds skuld beken.

Lewenslange tronkstraf staar al 12 verdagtes in die gesig, sou hulle skuldig bevind word.

Maroela Media het vroeër berig vier aanvallers geklee in kamoefleerdrag het Vrydagaand die Crocus City-konsertsaal in Moskou se noordelike Krasnogorsk-buurt binnegegaan, losgebrand en daarna brandbomme gegooi.

Die Islamitiese Staat (IS) het sedertdien by verskeie geleenthede verantwoordelikheid vir die aanval aanvaar, maar pres. Wladimir Poetin beweer dat Oekraïne en die Weste iets met die aanval te doen sou hê.

Rusland se ondersoekende komitee het reeds laat weet hulle het bewyse dat “Oekraïense burgers” agter die aanval sit en die skieters met kripto-geldeenhede uit Oekraïne gefinansier het.

Die komitee het Vrydag gesê die aanvallers het bevele via die Telegram-app ontvang, waarna hulle beplan het om na Oekraïne te ontsnap om ʼn beloning vir die aanval daar op te eis.

Oekraïne en die Weste het dié bewerings nou al herhaaldelik ontken en sê Rusland wil net die tragedie vir eie gewin uitbuit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.