Nóg twee Proud Boys-leiers swaar gestraf

(Foto: Jim Watson/ AFP

Nog twee Proud Boys-leiers is tot onderskeidelik 18 en 10 jaar tronkstraf gevonnis in verband met die aanval op die Amerikaanse Kongresgebou op 6 Januarie 2021.

Ethan Nordean (32), wat tronkstraf van 18 jaar opgelê is, se vonnis is dieselfde as die vonnis wat in Mei aan Stewart Rhodes – die stigter van ʼn ander verregse burgermag – opgelê is.

Dominic Pezzola (45), wat op minder aanklagte skuldig bevind is, is 10 jaar tronkstraf opgelê.

Die vonnisse wat deur regter Timothy Kelly in die federale distrikshof in Washington opgelê is, volg nadat twee ander Proud Boys, Joe Biggs en Zachary Rehl, onderskeidelik 17 en 15 jaar tronkstraf opgelê is.

Aanklaers het hulle as sleutelfigure beskryf in die aanval deur duisende wat probeer het om Joe Biden se verkiesingsoorwinning in November 2020 met geweld om te keer, nadat oudpres. Donald Trump herhaaldelik beweer het dat daar massiewe bedrog in die stemming was.

“Die Proud Boys het die Amerikaanse tradisie van ʼn vreedsame demokratiese magsoordrag verbreek  toe hulle wou keer dat Joe Biden as oorwinnaar in die presidensiële verkiesing van November 2020 bekroon word,” het Kelly gesê.

Die sogenaamde Proud Boys is onder meer skuldig bevind aan sameswering en die vernietiging van staatseiendom.

Net meer as twee weke voor 6 Januarie het die Proud Boys “saamgesweer om die sertifisering van die Kieskollege-stem te voorkom, te verhinder en uit te stel en om die gesag van die regering van die Verenigde State met geweld teen te staan”, het die departement van justisie in ʼn verklaring gesê.

Nordean én Pezzola het berou voor die vonnisoplegging uitgespreek. Nordean – wat ʼn hoof van die Proud Boys se “ministerie van selfverdediging” genoem word – het sy eie leierskap verwyt.

Volgens getuies in die hofsaal het Pezzola egter minute nadat hy gevonnis is, sy vuis gelig en verklaar dat “Trump gewen het”.

Die vonnisoplegging van die Proud Boys se nasionale voorsitter, Enrique Tarrio, sal na verwagting Dinsdag plaasvind. Tarrio het die groep aangehits om die Kongresgebou destyds te bestorm, maar was nooit self deel daarvan nie omdat hy weens ʼn vorige skuldigbevinding verbied is om die stad binne te gaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.