Nóg van Melkweg se geheime onthul

Argieffoto bloot ter illustrasie van die melkweg. (Foto: Andy Holmes/Unsplash)

Wetenskaplikes weet nou nóg meer van die Melkweg.

Byna twee miljoen sterre, geheimsinnige “sterbewings” en ʼn katalogus van meer as 156 000 asteroïdes in die sonnestelsel is maar net sommige van die jongste inligting wat die Gaia-ruimtetuig teruggestuur na die aarde.

Die ruimtetuig van die Europese Ruimtevaartorganisasie (ESA) is in 2013 gelanseer met die doel om die noukeurigste driedimensionale kaart nóg van die Melkweg op te trek.

Die ruimtetuig het in 2016 en 2018 reeds sy eerste en tweede datastelle verskaf. Die derde datastel is eindelik Maandag ná jare se waarneming bekend gestel en dié nuwe data “rewolusioneer” wetenskaplikes se begrip van die sterrestelsel, sê ESA.

Dié kaart van die Melkweg toon die sterrestelsel se “radiale snelheid en behoorlike beweging”. (Foto: EUROPEAN SPACE AGENCY / AFP)

Die ruimtevaartorganisasie sê dit is veral verrassend dat die Gaia-ruimtetuig hierdie keer sterbewings – massiewe vibrasies wat die vorm van die verre sterre verander – waargeneem het aangesien dié ruimtetuig nie gebou is om sterbewings waar te neem nie.

Tog is die vreemde verskynsel op duisende sterre opgemerk. Dit is selfs op sterre opgemerk wat volgens wetenskaplikes se huidige begrip van die heelal nie enige sterbewings behoort te hê nie.

Gaia het ook hierdie keer 2,9 miljoen ander sterrestelsels sowel as 1,9 miljoen kwasars – uiters helder hemelliggame wat aangedryf word deur supermassiewe swart gate – waargeneem.

Meer oor alsiende Gaia

Die Gaia-ruimtetuig is in ’n strategies geposisioneerde wentelbaan 1,5 miljoen kilometer van die aarde af geleë.

“Gaia skandeer die lug en tel alles op wat hy sien,” verduidelik die sterrekundige Misha Haywood.

Tog kan dié ruimtetuig steeds net sowat 1% van die sterre in die Melkweg – wat ongeveer 100 000 ligjare in deursnee is – waarneem.

Die ruimtetuig is toegerus met twee teleskope sowel as ʼn miljard-pieksel-kamera, wat beelde vasvang wat skerp genoeg is om die deursnee van ʼn menslike haar op ʼn afstand van 1 000 kilometer te meet.

Dié foto toon met verskillende kleure
die wentelbane van die meer as 150 000 asteroïdes soos vervat in die data. (Foto: EUROPEAN SPACE AGENCY / AFP)

Dit is ook toegerus met ʼn reeks ander instrumente wat dit in staat stel om nie net die sterre te karteer nie, maar hul bewegings, chemiese samestellings en ouderdomme te meet.

Intussen maak sterrekundiges staat op die inligting wat Gaia huis toe stuur. “Daar is nie ʼn enkele sterrekundige wat nie sy data, direk of indirek, gebruik nie,” verduidelik Francois Mignard, ʼn lid van die Gaia-span.

“Gaia verskaf vir die eerste keer ʼn globale waarneming van die posisies van enigiets wat in die lug beweeg. Voor Gaia het ons ʼn baie beperkte uitsig op die sterrestelsel gehad,” sê Haywood.

Sowat 50 wetenskaplike referate kon reeds gepubliseer word met behulp van Gaia se derde datastel. Dít terwyl Gaia se waarnemings reeds duisende navorsingsprojekte aangevuur sedert sy eerste datastel in 2016 uitgereik is.

Die tweede datastel in 2018 het sterrekundiges byvoorbeeld toegelaat om te bewys dat die Melkweg ongeveer 10 miljard jaar gelede met ʼn ander sterrestelsel saamgesmelt het tydens ʼn geweldige botsing.

Gaia produseer daagliks sowat 700 miljoen sterposisies en 150 miljoen fotometriese metings.

Die stortvloed rou data van Gaia word deur ʼn span van 450 Europese wetenskaplikes en sagteware-ingenieurs gefynkam. Die span gebruik ses superrekenaars sowel as “mensgedrewe algoritmes” om sin te maak van die data.

Dit het die span vyf jaar geneem om die jongste data te lewer, wat van 2014 tot 2017 waargeneem is.

Die finale datastel sal in 2030 uitgereik word, nadat Gaia sy missie in 2025 voltooi het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Cherokee ·

…die Melkweg – wat ongeveer 100 000 ligjare in deursnee is…
En daar is vele melkweë. Dit is syfers wat buite begrip is.
Onmootlik om te besef hoe groot die Skepper daarvan is!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.