Novak Djokovic word uit Australië geskop

Argieffoto van Novak Djokovic. (Foto: Brandon MALONE / AFP)

Die Serwiese tennisster Novak Djokovic se droom om sy 21ste Grand Slam-titel te wen is aan skerwe nadat Australië se federale hof sy appèl van die hand gewys het.

Die paneel van drie regters het beslis die minister van immigrasie het die reg om sy diskresie te gebruik om ʼn visum te kanselleer.

Djokovic sal in aanhouding bly totdat hy gedeporteer word. Nie net is die drama rakende sy visum vir die Australiese Ope ʼn terugslag nie, dis boonop ʼn diplomatieke herrie en olie op die vuur van die debat oor inenting teen Covid-19.

Hoofregter James Allsop het gesê die beslissing was eenparig. “Dít is nie ʼn appèl teen ʼn besluit van die uitvoerende gesag nie.

“Dit is ʼn aansoek in die hof as afsonderlike arm van die regering om te bepaal of ʼn beslissing van ʼn lid van die uitvoerende gesag, die minister, regmatig of wettig was op die drie gronde wat aangevoer is.

“Hierdie gronde fokus daarop of die besluit om verskeie redes irrasioneel of onredelik was. Dit is nie die hof se werk om te besluit oor die meriete of wysheid van die besluit nie.”

Die hof moet nog sy volledige redes vir die beslissing bekend maak, maar het dit duidelik gestel dat hul beslissing gegrond is op hul standpunt dat die immigrasieminister die gesag het om sy diskresie te gebruik om visums te kanselleer.

Djokovic se appèlverhoor het vier uur geduur met driftige heen-en-weer regsargumente oor Djokovic se standpunt teen inenting en sy beweerde risiko vir openbare orde in Australië.

Djokovic se regspan het Australië se pogings om hom te deporteer as “irrasioneel” en “onredelik” bestempel. Die paneel van drie regters het ook indringende vrae gestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

MakersMark ·

“I fought the law and the law won” – The Clash 1977. Nog geldig in 2022.

piet ·

Novax-jok-o-vic. Oneerlikheid eindig gewoonlik nie goed nie.

MakersMark ·

Die enigste eend wat nie swem nie is novax noplay……

Niklaas ·

Sou hy nie maar baie meer gebaat het by die inenting nie ?

piet ·

Beslis. Hy sou gesonder gewees het en ‘n paar miljoen gewen het wat hy nou verloor weens no-play. ‘n Wen-wen situasie het nou in ‘n verloor-verloor situasie vir hom ontaard.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.