Nuwe bergpiek vir Toblerone se bekende verpakking

Toblerone se verpakking gaan binnekort ‘n bietjie anders lyk. (Foto: Toblerone/Instagram)

ʼn Nuwe ontwerp sal binnekort op die Switserse Toblerone-sjokolade se kenmerkende verpakking pronk omdat dié gewilde produk nie meer eksklusief in sy tuisland geproduseer gaan word nie.

Die handelsmerk se eienaar, die Amerikaanse voedselreus Mondelez International, het aangekondig dat Toblerone teen die einde van 2023 ‘n nuwe produksielyn in Slowakye sal begin om die groeiende vraag na sy sjokolade te akkommodeer.

Toblerone se unieke resep van melksjokolade en nougat is in 1908 in die Tobler-familiefabriek deur Emil Baumann, die neef van Theodor Tobler, geskep. Dit is voorheen uitsluitlik in Bern, die hoofstad van Switserland, geproduseer.

Ingevolge Switserse-wetgewing mag nasionale simbole nie gebruik word om melkgebaseerde produkte wat nie uitsluitlik in Switserland gemaak word te bevorder nie.

Die Matterhorn-bergreeks is tans op die verpakking te sien. (Foto: Peter Bromley/Unsplash)

Toblerone se piramidevormige staaf weerspieël die Alpe-piek en gebruik sedert die 1970’s die Matterhorn-bergreeks se gekartelde silhoeët op sy verpakking.

Dié bergreeks, sowel as die woorde “made in Switzerland” moet nou van die verpakking verwyder word. Mondelez het aan AFP gesê dat die nuwe verpakking ʼn meer generiese bergreeks en Baumann se handtekening sal insluit.

Die sjokolade se kenmerkende vorm hoef egter nie aangepas te word nie.

Sowat sewe miljard Toblerone-sjokoladestafies word jaarliks gemaak, waarvan 97% na 120 ander lande uitgevoer word. Volgens Mondelez is Toblerone veral gewild op lughawens, waar daar wêreldwyd een stafie elke twee sekondes verkoop word.

Bronne: AFP, BBC.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Koos 100 ·

Gebruik Mount Everest, dan maak julle sommer die blokkies groter, soos wat dit was 20 jaar terug.

Marthinus W ·

Die Amerikaners krap ook orals. Toe hulle Simba oorvat by ons, is tamatiesous weggegooi, en ander barndgoed ingebring. En toe vernietig hulle die Redro en Peck’s Anchovette vissmeer, want hulle hou nie daarvan nie.

Kobus ·

Ons moenie so maklik oorgee aan die krapperige Amerikaners nie…

Dewald ·

In my opinie maak die feit dat Toblerone in Switserland vervaardig word, dit eksklusief en waardevol, as ek ‘n sjokolade wou gehad het wat in ‘n ander land vervaardig is sou ek sommer ‘n Crunchy kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.