Nuwe president vir Mali ná staatsgreep

Soldate gedurende die staatsgreep in Bamako, Mali. (AP Photo)

Mali se voormalige minister van verdediging is aangewys as president van dié land in Wes-Afrika.

Dít volg net meer as ’n maand nadat Ibrahim Boubacar Keita as president van Mali bedank het nadat hy as deel van ʼn staatsgreep deur soldate by ʼn militêre basis in dié land aangehou is.

Bah N’Daou, ’n afgetrede militêre offisier, sal Mali vir die volgende 18 maande as tussentydse president lei totdat verkiesings in 2022 gehou word.

N’Daou se aanstelling is Maandag aangekondig deur kol. Assimi Goïta wat as visepresident van Mali sal dien. Goïta is die leier van die National Committee for the Salvation of the People (CNSP) wat die voormalige Malinese president in Augustus omvergewerp het.

kol. Assimi Goïta, leier van van die National Committee for the Salvation of the People en Mali se nuwe visepresident. (Foto: ORTM TV via AP)

Maroela Media het vroeër berig kol. Ismael Wague, adjunkpersoneelhoof van die lugmag in Mali, het verlede maand gesê ’n militêre staatsgreep was nodig omdat Keita se regering Mali in “chaos, anargie en onsekerheid” gedompel het.

Die VSA het kort daarna sy militêre hulp aan Mali opgeskort, terwyl pres. Cyril Ramaphosa as voorsitter van die Afrika-unie die staatsgreep veroordeel het.

Ramaphosa het ook die internasionale gemeenskap versoek om die militêr-geleide ongrondwetlike regeringsverandering te verwerp en die inwoners van Mali te help om terug te keer na ’n burgerlike en demokratiese regering.

N’Daou en Goïta sal na verwagting Vrydag as president en visepresident ingehuldig word

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Mallie ·

Genade. Sien dit kan werk as almal saam staan. Ons moet dit ook doen.

Hennie J ·

Ja Mallie, dit is moontlik. Ongelukkig het ons nog nie n Moses wat na vore tree nie.
Net sommer tong in die kies: sit twee grieke bymekaar en jy kry een besigheid wat absoluut floreer; sit twee mense van joodse afkoms bymekaar en jy kry twee besighede wat absoluut floreer en mekaar ondersteun: sit twee Boere bymekaar en jy kry twee politieke partye.

JohanR ·

En Bah N’Daou, ’n afgetrede militêre offisier, gee nou om wat Cyril Ramaphosa te se het. Nie eers die mense IN Suid Afrika luister na die ou nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.