Nuwe verbod kan koalas van uitwissing red

‘n Koala in Australië. (Foto: Jonas Ekstromer/TT News Agency/AFP)

Nieu-Suid-Wallis, Australië se digsbevolkte staat, het Dinsdag ʼn verbod op enige ontbossing in ʼn 8 400 ha woud aangekondig.

Hierdie besluit is geneem sodat die woud in ʼn toevlugsoord vir koalas omskep kan word waar dié buideldiere teen uitwissing beskerm kan word.

Die plaaslike regering sê die betrokke woud is reeds die tuiste van 106 koala-kolonies.

Die koalaryke gebied sal ʼn belangrike deel uitmaak van ʼn 315 000 ha Groot Koala Nasionale Park wat in die vooruitsig gestel word. Dié massiewe nasionale park sal in effek “koalas van uitwissing in die staat red”.

Brad Smith, waarnemende uitvoerende hoof van die natuurbewaringsraad, sê die verbod is ʼn “historiese stap vorentoe”, aangesien die gebied “die belangrikste koala-habitat in die wêreld is”.

“Hierdie besluit gee ook erkenning aan die feit dat ontbossing ʼn verwoestende impak op koalas en biodiversiteit het,” sê hy.

Dr. Stuart Blanch, woordvoerder van die Australiese wêreldnatuurfonds, het gesê die getal koalas in Nieu-Suid-Wallis het die afgelope paar jaar “ʼn dramatiese afname” getoon. Tussen 2000 en 2020 het die koalabevolking met meer as 50% afgeneem weens ontbossing, droogtes en bosbrande.

Die plaaslike regering se besluit “is ʼn kans om hierdie tragedie om te keer,” sê Blanch.

“As ons enigsins koalas van uitwissing in hierdie eeu wil red, het ons groot beskermde gebiede nodig wat oor miljoene hektaar strek.”

Omgewingskenners het reeds gevra dat ontbossing in die hele Groot Koala Nasionale Park-gebied gestaak word.

Die regering het gesê dat hy binnekort met samesprekings met die staatsbeheerde houtkapperagentskap Forestry Corporation Nieu-Suid-Wallis sal begin om “houtvoorsieningsopsies te bepaal”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Cherokee ·

Onthou net, hier vreet hulle alles. Koalas sal dit ontgeld. Tot renosters moet beskerm word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.