Die voormalige Amerikaanse voetbalspeler en akteur, OJ Simpson, is weer ʼn vry man.
Simpson (70) is Sondag op parool vrygelaat ná aanhouding in ʼn gevangenis in Nevada in die VSA.
Simpson was nege jaar lank agter tralies nadat hy skuldig bevind is aan ʼn gewapende rooftog, aanranding en tien ander aanklagte.
Die paroolraad het in Julie vanjaar besluit dat hy in Oktober vrygelaat mag word. Simpson het tydens sy verskyning voor die raad gesê hy het berou oor sy dade en is tot nederigheid gedwing deur sy gevangenisstraf.
Toe die paroolraad sy uitspraak gelewer het, het ʼn emosionele Simpson verlig geglimlag en gesê: “Dankie, dankie”.
Simpson is in 2007 in hegtenis geneem vir sy betrokkenheid by ʼn mislukte rooftog in Las Vegas toe hy ʼn groep mans in ʼn hotel en casino ingelei het om sportmemorabilia te steel. Hy het aangevoer die memorabilia het aan hom behoort. Hy is die daaropvolgende jaar tot 33 jaar tronkstraf gevonnis.
Simpson is 1995 vrygespreek op ʼn aanklag dat hy sy gewese vrou, Nicole Brown Simpson, en haar vriend Ronald Goldman vermoor het. Hoewel Simpson op die moordaanklag vrygespreek is, het Goldman se familie met ʼn $33 miljoen siviele eis weens onregmatige doodslag geslaag. Dié hofsaak word steeds as een van die opspraakwekkendste hofsake van alle tye bestempel.
Malcolm LaVergne, Simpson se prokureur, het gesê Simpson sien daarna uit om sy familie te sien. En die “eenvoudige plesiertjies” van die lewe, soos ʼn biefstuk, seekos en ʼn nuwe iPhone, te geniet.
Dit is onbekend waarheen Simpson ná sy vrylating geneem is.
Hy sal nooit vry wees nie want jy kannie van die waarheid vlug nie.
Wat ‘n arrogante man bly hy nie. Nou wil hy wragtiewaar nog munt slaan uit sy onderduimsheid.
Die jaartal moet wees 1995
Dankie vir jou valkoog Lourens. Die vingerfout is reggestel.
Groete
Phillip Bruwer, nms. Maroela Media
Ja nee geweet hulle sou dit nie publiseer nie , elk geval skelms kom hul moses tee een of ander tyd die lot in ons land sal leer dit betaal nie ..
Waar kry hy die geld vir biefstuk,seekos en n nuwe iPhone, die hofsake het hom al miljoene gekos.
n Gebroke ou man!!