Olietenkskip sit vas in Suezkanaal

Die Affinity V het Woensdag in die Suez-kanaal vasgesit (Foto: Twitter)

’n Olietenkskip wat Woensdagaand in die Suezkanaal in Egipte vasgesit het, het vrese laat ontstaan dat verlede jaar se groot versperring in die kanaal homself sou herhaal.

Volgens ’n veiligheidsbron het die Affinity V omstreeks 19:15 in die Suezkanaal vasgesit, maar seeverkeer is ná ’n “kort tydjie weer herstel”.

Die voorval is veroorsaak deur tegniese skade aan die roer wat gelei het tot ’n verlies aan beheer oor die skip, volgens die Suezkanaalowerheid.

Volgens die owerhede is meer as vyf insleepvaartuie vinnig vir die operasie gemobiliseer om die tenkskip uit te sleep.

Dié 250 meter lange tenkskip van Singapoer was na die Saoedi-hawe Yanbu onderweg.

Die Suezkanaal, ’n belangrike poort tussen Asië en Europa, hanteer ongeveer 10% van die wêreld se maritieme handel.

Die MS Ever Given, ʼn Taiwannese houerskip, het die kanaal verlede jaar versper en in die proses onberekenbare skade aan die wêreldekonomie aangerig. Honderde skepe moes omdraai weens die versperring.

Egipte het elke dag van die sluiting van die kanaal tussen $12 miljoen (sowat R207 miljoen) en $15 miljoen (R258 miljoen) verloor, terwyl versekeraars geraam het dat die wêreldwye maritieme handel miljarde dollar se verlore inkomste per dag gely het.

Desondanks is ’n rekord getal skepe in Julie aangemeld wat die afgelope jaar deur die Suez-kanaal in Egipte gevaar het.

Die Egiptiese president Abdel Fattah al-Sisi het in Mei ’n projek goedgekeur om die suidelike gedeelte van die kanaal waar die Ever Given vasgesit het, te verbreed en te verdiep.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

VaalDonkie ·

Dis nie “verder” of “duurder” as om weke lank in die Suezkanaal vas te sit nie. Hulle sal moet begin sommetjies maak.

VaalDonkie ·

Hier gaat ons alweer. Ek is net bly daai parte wat ek bestel het kom van Japan af en hoef nie deur die Suezkanaal te gaan nie. Wel, ek HOOP so.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.