Olivia Newton-John sterf

Olivia Newton-John. (Foto: Facebook)

Dame Olivia Newton-John, die aktrise en sangeres wat in 1978 harte wêreldwyd verower het as Sandy Olsson in die musikale treffer Grease, het Maandag gesterf.

Newton-John was 73 jaar oud. Haar man, John Easterling, het die nuus van haar afsterwe op sosiale media bekend gemaak.

“Sy het vanoggend vreedsaam gesterf op haar plaas in die suide van Kalifornië, omring deur vriende en familie,” lui ‘n inskrywing op Newton-John se Facebook-blad.

Die familie vra ook vir privaatheid in die inskrywing.

“Olivia was die afgelope 30 jaar ‘n simbool van oorwinning en hoop, deur haar ervaring met borskanker te deel.”

Die aktrise is die eerste keer in 1992 met borskanker gediagnoseer en het in 2013 weer ‘n stryd teen dieselfde kanker gevoer. In 2017 het dit aan die lig gekom dat sy vir ‘n derde keer met borskanker, wat na haar rug en beendere versprei het, gediagnoseer is.

Newton-John is op 26 September 1948 in Brittanje gebore, maar het in Australië grootgeword. Sy het vier Grammy-toekennings ingeoes en het verskeie Billboard Hot 100- en Billboard Hot 200-treffers gehad, onder meer bekende snitte soos “Xanadu”, “Physical” en “I honestly love you”.

Sy word oorleef deur haar man, ‘n dogter, Chloe Lattanzi, haar suster Sarah Newton-John, broer Toby Newton-John en 15 broerskinders en susterskinders.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Darts girl ·

Rus in vrede Olivia, sterkte aan haar familie en vriende in hierdie hartseer tyd.
Forever a Danny & Sandy fan

piet ·

Baie mooi vrou gewees in haar jeug met ‘n paar goeie liedjies. Ek het meer van haar stadiger en Country liedjies gehou maar die Grease fliek was baie gewild. Judith Durham van “The Seekers” ook Maandag oorlede, so ‘n unieke stem gehad. The carnival is over, Judith.

Wielspore ·

Werklik ‘n kunstenaar van gehalte en ‘n verlies vir die musiek bedryf.

Groen-oog ·

Pragtige vrou. Pragtig as jong vrou en net so stunning as ouer vrou. Syt pragtig oud geword. Rus in vrede. Sterkte aan haar naasbestaandes.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.