Ondersoek na Covid-19-oorsaak gaan voort – WGO

Foto: (Martial Trezzini/Keystone via AP)

Lede van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) sal vandeesweek in China land om die oorsprong van die koronavirus te ondersoek.

Dít volg ná twee van die kundiges wat reeds onderweg was na China Woensdag toegang tot dié land geweier is.

Hua Chunying, woordvoerder van die Chinese ministerie van buitelandse sake, het erken dat die lede nie weens ʼn probleem met hul visums toegang geweier is nie, maar eerder omdat die finale reëlings rakende die kundiges se besoek glo nie afgehandel was nie.

Die WGO het egter bevestig dat die span van tien lede na verwagting Donderdag in China sal land, waar hulle saam met Chinese wetenskaplikes navorsing sal doen om vas te stel hoe en waar die nuwe koronavirus van diere na mense versprei het.

Michael Ryan, uitvoerende direkteur van die WGO se program vir gesondheidsnoodgevalle, het in Desember gesê dat die internasionale span kundiges saam met hul Chinese kollegas, maar nie onder Chinese toesig nie, sal werk.

Die aankondiging van die WGO-span se aankoms in China volg ná die herdenking van die eerste Covid-19-verwante sterftes wat Maandag ʼn jaar gelede in Wuhan bevestig is. Die herdenking het Maandag ongemerk in Wuhan verbygegaan, waar pendelaars vrylik na hul onderskeie werkplekke beweeg het, en die parke en riviere van besoekers gegons het.

“Wuhan is die veiligste stad in China, selfs die hele wêreld,” het Xion Liansheng, ʼn 66-jarige inwoner van Wuhan, gesê.

Intussen woed die pandemie wêreldwyd voort en lande soos Israel en Australië begin weer beperkings instel.

Covid-19-verwante sterftes het Sondag 40 000 in Duitsland oorskry en hospitale hiér is glo oorweldig. “Die komende weke sal die moeilikste fase van die pandemie tot dusver wees,” het Angela Merkel, kanselier van Duitsland, gesê.

Hospitale in Brittanje is ook oorweldig en die toename in koronavirusgevalle het die regering genoop om sy veldtog om mense by die huis te hou, versterk. Owerhede haas ook om 15 miljoen mense teen middel Februarie in te ent.

Koronavirusgevalle het intussen in Meksiko opgevlam en paramedici sukkel om beddens vir pasiënte te vind. “Om genoeg plek te hê, moet een pasiënt óf ontslaan word óf sterf,” het Angel Zuniga, Rooikruis-koördineerder in Toluca, gesê. “Dit is moeilik, maar dis die waarheid.”

Terwyl ryker lande in Europa en Noord-Amerika reeds met inentings begin het, sal Indië Saterdag begin om 1,3 miljard mense in te ent. Meer as 150 000 mense is reeds in dié land aan die koronavirus dood en hul ekonomie is een van dié wat die swaarste deur die pandemie getref is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Jacobus ·

Wat ‘n mens die meeste moet pla is dié klomp se ongeergtheid.

Suzette ·

Die kundiges wat hierdie saak ondersoek gaan nie hulle sterte kan draai nie – daarvoor sal die Chinese sorg. Die kundiges gaan net “ontdek” wat die Chinese wil hê hulle moet. Chinese het lankal ontslae geraak van alles wat moontlik ‘n vinger na hulle kan wys.

Alleen Wolf ·

Natuurlik, meer as ‘n jaar tyd gehad om dit te doen, hulle mors net geld en tyd.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.