Oorsaak van Sinead O’Connor se dood bekend

Sinéad O’Connor tydens ‘n optrede in 2014 (Foto: Bryan Ledgard via Wikimedia Commons)

Die Ierse sangeres Sinéad O’Connor is aan natuurlike oorsake dood, lui die lykskouingsverslag wat Dinsdag die oorsaak van O’Connor se dood bekendgemaak het.

Die sangeres is in Julie verlede jaar in die suide van Londen dood. Sy was 56 jaar oud.

“Hierdie is om te bevestig dat me. O’Connor dood is aan natuurlike oorsake,” lui ʼn verklaring deur die Southwark-lykskouingshof. “Die nadoodse ondersoeker se betrokkenheid by haar dood is dus afgehandel.”

Die dag ná haar dood bekendgemaak is, het die polisie al gesê geen onraad word oor haar dood vermoed nie.

O’Connor het kort voor haar dood teruggetrek Londen toe, nadat sy ʼn maand tevore op X gesê het sy was 23 jaar lank weg uit dié wêreldstad.

O’Connor, gebore in die Ierse hoofstad Dublin, het tien albums in haar loopbaan opgeneem. Daar was alles van “I Do Not Want What I Haven’t Got” tot “I’m not Bossy, I’m the Boss”, maar sy was veral bekend vir die weergawe van Prince se “Nothing Compares 2 U” wat sy in 1990 uitgereik het.

O’Connor – wat veral ook herkenbaar was danksy haar beroemde borselkop – het regdeur haar loopbaan omstredenheid trompop geloop en gereeld kritiek op die Rooms-Katolieke Kerk gelewer.

Meer onlangs het O’Connor haar uitgesproke politieke sienings met spiritualisme vermeng en is sy te midde van groot omstredenheid in 1999 tot priester georden.

Sy het haar later tot Islam bekeer en haar naam in 2018 na Shuhada’ Sadaqat verander.

O’Connor was ook bekend daarvoor dat sy maklik in die openbaar oor haar geestesgesondheidstryd kon praat. Sy het in 2007 aan Oprah Winfrey gesê dat sy met selfmoordgedagtes sukkel en dat bipolêre versteuring by haar gediagnoseer is.

Sy het in die laaste jare die kollig vermy, veral ná die dood van haar 17-jarige seun, Shane, wat verlede jaar sy eie lewe geneem het.

O’Connor word oorleef deur nog drie kinders.

Bykomende bron: BBC

O’Connor in 1987 (Foto: Fotograaf onbekend. Versprei deur Chrysalis Records – Worthpoint, Public Domain via Wikimedia Commons)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Gaitsigubib ·

Nie dat ek hoegenaamd wil weet nie, maar ek kan nie sien hoe mens se vrae noodwendig beantwoord is as jy hoor iemand is dood aan “natuurlike oorsake”. 56 is vrek jonk om aan “natuurlike oorseke” te sterf, hoewel dit die laaste 3jaar meer algemeen geword het. Dalk het sy n siekte gehad wat wel mens se vrae sou beantwoord.

JD ·

@Gaitsigubib en ons weet ook hoekom “natuurlike oorsake” die laast 3 jaar meer algemeen is.

Highlander ·

Dood aan natuurlike oorsake op 56 klink nie baie natuurlik nie

Johan ·

Al wat ons weet, dis natuurlike oorsake. So ek sou nie sê die oorsaak van haar dood is bekend nie.

Richard ·

Ek sou eerder se sy het haar later tot Islam gewend. Beslis nie “bekeer” nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.