Oud-SA’ner, nog 11 sterf vanjaar reeds op Everest

Dr. Pieter Swart (Foto: Instagram)

ʼn Oud-Suid-Afrikaner wat in Kanada gewoon het, het vroeër die week die 12de bergklimmer geword om vanjaar op Everest te sterf.

Dr. Pieter Swart (64) het siek geraak in die gebied bo 8 000 m wat as die “doodsone” bekend staan weens die dun lug en lae suurstofvlakke. Dit verhoog die risiko van hoogtesiekte.

Swart is dood ná ʼn “ongedefinieerde respiratoriese voorval”, lui ʼn verklaring van die Universiteit van Brits-Columbië se narkose-afdeling, waar Swart as medeprofessor gewerk het.

“Ons het Pieter verloor terwyl hy dapper sy droom, wat hy al van negejarige ouderdom gekoester het, nagejaag het om boaan die wêreld te wees,” het sy kollega, dr. Hamed Umedaly, Vrydag in ʼn skrywe aan die departement gesê.

Die Vancouver Sun berig Swart het vir die afgelope 19 jaar onderskeidelik by die Vancouver General- en UBC-hospitaal gewerk. Vancouver Coastal Health het Swart in ʼn verklaring beskryf as ʼn ware leier in sy beroep en gesê hy het almal geïnspireer wat saam met hom gewerk het.

Swart laat sy vrou, Suretha, en twee kinders agter. Hy word ook deur sy ma, suster en broer in Suid-Afrika oorleef.

Daar sterf gemiddeld vyf klimmers elke lente op die wêreld se hoogste piek van 8 849 m, maar die dodetal is vanjaar al meer as dubbel.

Nepal se toerismedepartement het gesê daar word na minstens drie vermiste klimmers gesoek.

Die Maleisiese klimmer Muhammad Hawari Hashim (33), wat gehoorgestremd is, het verlede Vrydag rondom Kamp 4 vermis geraak nadat hy die piek suksesvol bereik het.

Op dieselfde dag het ʼn klimmer van Singapoer ook bo die 8 000 m-kerf vermis geraak. Nog ʼn Nepalese klimmer word sedert Donderdag gesoek.

Altesaam sewe buitelanders en vyf Nepali’s het al vanjaar hul lewe op Everest verloor, terwyl byna 600 klimmers reeds die piek bereik het.

Nepal het hierdie seisoen 478 permitte vir Everest aan buitelandse klimmers uitgereik. Aangesien die meeste ʼn gids nodig sal hê, sal meer as 900 mense probeer om die piek te bereik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Gert ·

Dr Piet Swart het sy oud SA recce-vriende deurentyd van Everest af op die hoote gehou van sy klimtog. Hulle het ook sy tog op n interaktiewe GPS-kaart gevolg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.