Ouma leef nog ná skoolskietery

Salvador Ramos se huis in Uvalde, Texas. (Foto: Jordan Vonderhaar / Getty Images via AFP)

Die ouma wie se 18-jarige kleinkind haar in die gesig geskiet het voordat hy op ’n laerskool in die Amerikaanse deelstaat Texas losgebrand het, leef nog.

Die owerhede het intussen bekend gemaak die jong man het net voor die skietery op Facebook gesê hy gaan sy ouma skiet en ’n skool aanval.

Greg Abbott, goewerneur van Texas, het Woensdag gesê Salvador Ramos het voor die aanval drie boodskappe op Facebook geskryf: Een – sowat 30 minute voor die skoolskietery – om te sê hy gaan sy ouma skiet, een om te sê hy het sy ouma geskiet, en ’n derde – ongeveer 15 minute voor die skietery — om te sê hy gaan by ’n laerskool losbrand.

Altesame 19 laerskoolleerders en twee onderwysers is kort daarna by die Robb Elementary School in Uvalde doodgeskiet.

Volgens die owerhede het Ramos se ouma (66) die polisie ontbied nadat haar kleinseun haar in die gesig geskiet het. Ramos het in daardie stadium in sy ouma se motor op die vlug geslaan. Hy het egter die motor ’n blok van Robb Elementary af gestamp.

Ramos is toe te voet met ’n vuurwapen in sy rugsak na die laerskool.

‘n Skermgreep van Salvador Ramos se Instragram. (Foto: AFP)

Volgens Abbott het die gewapende jong man hom met sy aankoms in ’n distrikspolisiebeampte vasgeloop. Hy kon dit egter regkry om by ’n agterdeur in te gaan, by twee kort gange af te stap en ’n klaskamer binne te gaan wat met ’n ander klaskamer verbind is.

Ramos het hom toe in dié klaskamer afgesper, het lt. Christopher Olivarez van die Texas departement openbare veiligheid aan CBS Mornings gesê. “Hy het in daardie stadium begin skiet op kinders en onderwysers wat in daardie klaskamer was.”

Polisiebeamptes wat aanvanklik op die skietery gereageer het, kon nie dadelik by die klaskamer ingaan en op Ramos toeslaan nie.

“Daar was nie ʼn manier waarop hulle kon ingaan nie, veral met die klomp mense wat op die toneel was. Hul primêre fokus in daardie stadium was dus om soveel kinders as moontlik na veiligheid te neem.”

’n Gespesialiseerde taktiese eenheid van federale wetstoepassers kon later uiteindelik die klaskamer binnedring. Drie beamptes is in die proses beseer. Al drie beamptes is in ’n stabiele toestand, het Abbott bevestig.

(Foto: Jordan Vonderhaar/Getty Images/AFP)

Steven McCraw, direkteur van Texas se departement van openbare veiligheid, het op sy beurt gesê Ramos het twee semi-outomatiese gewere en ammunisie op 17 Mei en 20 Mei by ’n plaaslike winkel gekoop.

Dit is met een van dié semi-outomatiese gewere waarmee hy Dinsdag (24 Mei) by die skool ingestap het.

“Dit is natuurlik ’n situasie waar ons misluk het in die sin dat ons nie hierdie massa-aanval verhoed het nie – maar ek kan jou sê, daardie beamptes wat op die toneel aangekom het en hul lewens in gevaar gestel het, hulle het ander kinders gered,” het McCraw gesê.

Facebook het intussen gesê Ramos se plasings was “private een-tot-een-SMS’e wat ontdek is nadat die verskriklike tragedie plaasgevind het”. Facebook het hom ná die skietery daartoe verbind om nou saam met die Amerikaanse owerhede te werk.

Bron: CBS News

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Elize ·

Motief? Dwelms? Geestesgesondheid? Daar moet tog ‘n rede wees.

Agge nee ·

As ek so na sy foto kyk, is dit alles wat jy genoem het.

AmY ·

Ek was ook al kwaad vir die hele wêreld, maar nog nooit losgebrand op onskuldige mense en kinders nie.

Racheltjie Debeer ·

Wat ek nie verstaan nie is hoe mens by ‘n afdelings winkel of supermark instap en vuurwapens koop????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.