Paartjie hul sprokiestroue kwyt ná verwoestende storm

Kyle Perry en Stephanie Hoekstra (Foto:GoFundMe)

ʼn Paartjie van Lumberton in Texas, in die VSA, het nie net die meeste van hul besittings verloor in die storm wat deur orkaan Harvey veroorsaak is nie, maar is boonop hul troue kwyt.

Kyle Perry en Stephanie Hoekstra sou op 10 September getrou het, maar die verwoesting van Orkaan Harvey het hul sprokiestroue in die wiele gery.

Perry (35), ʼn brandbestryder, het nie tyd gehad om na sy eie huis om te sien tydens dié verwoestende storm nie, aangesien hy met ʼn boot van huis tot huis gegaan het om ander slagoffers uit hul huise te red. Perry het aan CNN gesê dit was vir hom die belangrikste om sy gemeenskap by te staan.

“Daar is nog baie werk om hier te doen om ons bure en ons gemeenskap te help. Ons moet ʼn plek kry om te bly en ons moet klere koop. Al wat ek nou het, is ʼn kortbroek, onderklere en my twee brandweeruniforms,” het hy gesê.

Perry het ʼn tydjie van sy reddingswerk afgeknyp om na sy huis terug te keer om sy diere te red. CNN berig hy het na sy huis teruggekeer toe hy besef die storm gaan nie binnekort opklaar nie. Hy het sy twee honde en hul ses babahondjies gered. Hy het toe sy motorfiets op die kombuistoonbank gesit en sy verloofde se trourok in die hoogste rak van die klerekas ingedruk, met die hoop dat dit die vloed sal oorleef.

Kyle Perry se huis net voordat hy daar in is om die trourok te red (Foto: GoFundMe)

Perry het ʼn paar dae later teruggekeer na die huis, waar hy nek-diepte in die water in sy huis ingeloop het. Hy het ʼn regstreekse video daarvan op Facebook gemaak waarna Hoekstra kon kyk. “Alles wat ons vir die troue gekoop het, die borde, servette – alles het net rondgedryf,” het Hoekstra gesê.

Perry het toe na die kamer gegaan waar hy die rok gebêre het en kon sy oë nie glo toe hy sien sy verloofde se trourok is nog veilig en droog in die kas nie. Hy het die trourok op die boot gelaai en dit na die brandweerstasie geneem waar dit veilig sal wees.

Met net die trourok oor, het die paartjie besluit om hul troue uit te stel. “Ons is so lief vir mekaar. Ons sal op ʼn ander dag trou, ons sal orraait wees,” het Hoekstra aan CNN gesê. Maar familie en vriende het saamgespan om die troue ʼn werklikheid te maak. Perry se skoonsuster het ʼn skarefinansieringsveldtog begin met die hoop om $8 000 vir die paartjie in te samel. Met die veldtog is daar nou al meer as $9 000 (R11 7000) ingesamel om Perry en Hoekstra te help.

Die beskrywing op die Go Fund Me-blad lui: “Hierdie veldtog is begin vir mense wat graag vir Kyle op ʼn manier wil help, omdat hy só baie mense in die orkaan gehelp het. Al die donasies sal direk na Kyle en Steph toe gaan.”

Die geld wat ingesamel is, sal die verliefde paartjie help om so gou as moontlik voor die kansel te staan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

LS ·

So jammer julle moes alles verloor, maar wat ‘n groot hart om almal te help.
Hoop hulle kry genoeg geld ingesamel sodat julle n kan trou, STERKTE !!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.