Picasso-tekening by Ibiza-lughawe gevind

Pablo Picasso (1962) (Foto: By Argentina. Revista Vea y Lea via Wikimedia Commons)

Spaanse doeanebeamptes het beslag gelê op ʼn skets deur Picasso ter waarde van ongeveer €450 000 (meer as R7,8 miljoen) van ʼn passasier wat by Ibiza-lughawe aangekom het en nie die kunswerk verklaar het nie.

Agente het die skets uit 1966, “Trois personnages”, op 5 Julie in ʼn man se bagasie gevind. Hy het op ʼn vlug van Zürich by die eiland aangekom, het die kantoor Maandag in ʼn verklaring gesê.

Die passasier het aangevoer die kunswerk is slegs ʼn afskrif en het ʼn kwitansie van 1 500 Switserse frank vir hulle gewys wat hy glo vir die skets betaal het.

Doeanebeamptes het egter op nog ʼn kwitansie in die bodem van sy tas afgekom van ʼn kunsgalery in Zürich ter waarde van €454 000 met ʼn verwysing na ʼn werk deur Pablo Picasso.

ʼn Voorlopige analise deur kunskenners het bevestig die skets is inderdaad ʼn werk deur die Spaanse skilder. “Die prys wat die galery gevra het, stem ooreen met die markprys van die werk,” lui die verklaring.

Die eerste assessering sal bevestig moet word deur ʼn “meer omvattende analise” deur middel van “gevorderde tegnieke”.

Die passasier kan daarvan beskuldig word dat hy die kunswerk gesmokkel het, toe hy versuim het om ʼn waardevolle voorwerp te verklaar toe hy Spanje binnegekom het.

Die doeanebeamptes het gesê hulle het hom uitgesonder vir ondervraging ná hulle ʼn wenk van hul Switserse eweknieë ontvang het dat hy ʼn kunswerk in “verdagte omstandighede” vervoer.

Picasso word beskou as een van die bekendste kunstenaars van die 20ste eeu. Hy het die grootste deel van sy lewe in Frankryk deurgebring waar hy in 1973 gesterf het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Vexed ·

Dit is maar net ‘n prentjie waarvoor hy ‘n klomp geld betaal het. Dit het nie regte waarde nie.

Frank John ·

Ek sê waarom dit weg steek, hy het betaal daarvoor, dis syne, gebruik wetlike metodes om te vervoer. As jy soveel spend kan jy maar vir bietjie meer spend en dit reg doen. Stupid!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.