Plastiekdeeltjies in mense se bloed gekry

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Tanvi Sharma/Unsplash)

ʼn Navorsingsverslag deur wetenskaplikes in Nederland het bevind dat talle mikro-plastiekdeeltjies in mense se bloed voorkom en dat die meeste daarvan van lug, kos, water en persoonlikesorgprodukte soos tandepasta en lipglans afkomstig is.

Hoewel die impak van die deeltjies op ʼn mens se gesondheid nog nie bekend is nie, kan dit in die liggaam rondbeweeg en moontlik in organe vassit, berig The Guardian.

In ʼn nuwe verslag wat in die vaktydskrif Environment International gepubliseer is, het navorsers ʼn metode ontwikkel om menslike bloed te ontleed om sodoende mikroplastiek op te spoor. Hulle het toe hierdie metode gebruik om die bloed van 22 gesonde vrywilligers te ontleed.

Plastiekdeeltjies is in 80% van die vrywilligers se bloed aangetref, waarvan die helfte PET-plastiek bevat. Dié tipe plastiek word in weggooibare drinkbottels gebruik.

ʼn Derde van die vrywilligers het polistireen wat gebruik word om kos mee te verpak in hul bloed gehad, en ʼn kwart het tekens van die aanwesigheid van poliëtileen, wat in plastiekdrasakke voorkom, vertoon.

Prof. Dick Vethaak, ekotoksikoloog aan die Vrije Universiteit Amsterdam in Nederland, het aan The Guardian gesê dat hierdie navorsing die eerste aanduiding gee dat mense wel polimeerdeeltjies in hul bloed het. Hy gee egter toe dat die navorsing nou verder uitgebrei moet word met groter steekproefgroottes en meer polimere wat ondersoek moet word.

“Hierdie bevinding is beslis rede tot kommer, veral omdat die deeltjies deur die liggaam kan beweeg.”

Hy sê vorige navorsing het getoon dat mikroplastiekdeeltjies tien keer meer in babas se ontlasting voorkom as in volwassenes sʼn en dat babas wat met plastiekbottels gevoer word, miljoene plastiekdeeltjies per dag insluk.

“Ons weet ook in die algemeen dat babas en jong kinders meer kwesbaar is vir chemiese en deeltjieblootstelling,” het hy gesê. “Dit bekommer my baie.”

Van die vrywilligers se bloedmonsters het tussen twee en drie tipes plastiek bevat, maar volgens Vethaak het die tipes plastiek in elke monster baie verskil van die volgende een.

Dié verskille kan toegeskryf word aan die tipe korttermynblootstelling wat mense gekry het voordat die monsters geneem is – soos deur uit ʼn plastiekkoffiebeker te drink of ʼn plastiekgesigmasker te dra.

“Hierdie is ʼn baanbrekersnavorsing en nog navorsing is beslis nodig, maar die groot vraag is wat gebeur nou in ons liggame. Word die deeltjies in die liggaam behou? Word hulle na sekere organe vervoer? Kan hoë vlakke van hierdie deeltjies sekere siektes veroorsaak? Ons moet dringend verdere navorsing doen sodat hierdie vrae beantwoord kan word.”

Kenners het aan Medical News Today gesê die bevindings van die navorsing verbaas hulle nie.

“Die feit dat omtrent almal mikroplastiek in hul bloed het, is nie so verbasend nie, veral as jy in ag neem dat omtrent almal plastiekbymiddels inneem,” sê een kenner.

Vethaak se navorsing is deur die Nederlandse nasionale organisasie vir gesondheidsnavorsing en -ontwikkeling, asook Common Seas, ʼn liefdadigheidsorganisasie wat daaraan werk om plastiekbesoedeling te verminder, gefinansier.

“Plastiekproduksie sal teen 2040 verdubbel,” het Jo Royle, stigter van die liefdadigheidsorganisasie, gesê. “Ons het die reg om te weet wat al hierdie plastiek aan ons liggame doen.”

Common Seas, saam met meer as 80 wetenskaplikes, het reeds ʼn beroep op die Britse regering gedoen om £15 miljoen toe te ken aan navorsing oor die menslike gesondheidsimpak van plastiek, berig The Guardian. Die Europese Unie finansier reeds navorsing oor die impak van mikroplastiek op fetusse en babas, en op die mens se immuunstelsel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Marius ·

En dan word daar groot bohaai oor ‘n mensgemaakte griep virus gemaak…

AmY ·

Ek het al lankal geweet plastiek is gevaarlik, maar wat kan ons doen? Dis deel van ons alledaagse gebruik.

Windhond ·

Hou op asem haal – daar is biljoene mikro plastiek molekules in ons lug wast almal inasem

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.