Prinses Diana-standbeeld onthul

Brittanje se prins Willem, hertog van Cambridge (links) en prins Harry, hertog van Sussex onthul ʼn standbeeld van hul ma, prinses Diana by The Sunken Garden, Kensington-paleis (1 Julie 2021) (Foto: Dominic Lipinski/POOL/AFP)

Prinse William en Harry het Donderdag hul verskille eenkant toe geskuif om ʼn nuwe standbeeld van hul ma, prinses Diana, te onthul op die dag wat sy haar 60ste verjaarsdag sou vier.

Die broers het die standbeeld in die tuin van Diana se voormalige tuiste in Londen by Kensington-paleis onthul. Dit was ʼn klein seremonie weens die koronavirus-pandemie.

Toe die projek in 2017 aangekondig is, het William (39) en Harry (36) gesê hulle hoop dat dit besoekers sal help om na te dink oor hul ma se “lewe en nalatenskap”.

Diana is in 1997 in die ouderdom van 36 oorlede tydens ʼn hoëspoedjaagtog in Parys, Frankryk.

Maroela Media het vroeër berig haar 1981 Ford Escort, ʼn verlowingsgeskenk van prins Charles, is Dinsdag aan ʼn Suid-Amerikaanse museum verkoop vir meer as £52 000 (meer as R1 miljoen).

Koninklike assistente het Donderdag se seremonie as ʼn “baie persoonlike” familie-gebeurtenis beskryf. Alle oë is egter op die twee seuns vir enige teken van spanning in hul verhouding. As jong seuns het hulle kop onderstebo agter hul ma se kis aangestap verby die stil skares in Londen. Toe hulle as jong volwassenes al meer koninklike pligte aanvaar het, het hulle huishoudelike personeel gedeel en gereeld saam opgedaag om gemeenskaplike liefdadigheidsorganisasies te ondersteun. In ʼn stadium het die twee broers en hul vroue as “The Fab Four” bekendgestaan waar hulle ʼn moderne koninklike familie verteenwoordig het en meer aantreklik was vir ʼn jonger generasie.

Brittanje se prins Willem, hertog van Cambridge (links) en prins Harry, hertog van Sussex onthul ʼn standbeeld van hul ma, prinses Diana by The Sunken Garden, Kensington-paleis (1 Julie 2021) (Foto: Dominic Lipinski/POOL/AFP)

Die broers se verhouding het egter sigbaar versuur. Die koninklike biograaf Robert Lacey het gesê die twis is “die ernstigste koninklike konflik vir generasies”.

Daar is altyd spanning tussen die sogenaamde “heir and the spare”, het hy gesê toe hy sy nuwe boek, Battle of Brothers, bemark het, “maar niks so ernstig soos dié nie”.

Harry het in ʼn televisie-onderhoud in 2019 gerugte bevestig dat hy en William se verhouding versuur het en gesê hulle is “op verskillende paaie”. Die voormalige Britse weermagkaptein, wat baie meer impulsief is as sy ouer broer, woon nou saam met sy vrou Meghan in die VSA. Die egpaar, wat twee kinders het, het gekla oor die “versmorende aard” van die koninklike lewe en hoe dit hul geestesgesondheid geraak het.

Hulle het boonop ook ʼn koninklike hoë van rassisme beskuldig en gesê die persoon wou weet wat die velkleur sal wees van hul ongebore seun Archie.

Die koninklike familie het onderneem om ʼn ondersoek van stapel te stuur en die fokus het op diversiteit in die paleis geval. William het egter vinnig verklaar: “Ons is beslis nie ʼn rassistiese familie nie.”

Harry was laas in April in Brittanje vir die begrafnis van sy oupa, koningin Elizabeth II se eggenoot prins Philip.

Hy en William het ná die diens by Windsor-kasteel staan en gesels.

William se vrou, Kate, het nog nie Harry en Meghan se dogter, Lilibet Diana, ontmoet wat verlede maand gebore is nie.

Omid Scobie, wat ʼn simpatieke biografie van Harry en Meghan geskryf het oor hul skok-besluit om na die VSA te verhuis, het gesê Donderdag se ontmoeting kan help om die verhouding te verbeter. Die onthulling van die standbeeld “kan die ysbreker wees wat nodig is”, het hy vroeër aan verslaggewers in Londen gesê. “Daar is baie wat hulle moet bespreek.”

Die twee broers het saam ʼn boodskap op sosiale media gedeel oor die standbeeld. “Vandag, wat ons ma se 60ste verjaarsdag sou wees, onthou ons haar liefde, krag en karakter – eienskappe wat haar ʼn krag van goedheid wêreldwyd gemaak het. Sy het talle lewens verander,” het die broers gesê. “Baie dankie aan Ian Rank-Broadley, Pip Morrison en hul spanne vir hul uitstekende werk, die vriende en donateurs wat dit moontlik gemaak het en almal om die wêreld heen wat ons ma se nagedagtenis lewendig hou. Ons wens elke dag dat sy hier by ons was. Ons hoop dat dié standbeeld altyd beskou sal word as ʼn simbool van haar lewe en nalatenskap.”

Brittanje se prins Willem, hertog van Cambridge (links) en prins Harry, hertog van Sussex by ʼn standbeeld van hul ma, prinses Diana by The Sunken Garden, Kensington-paleis (1 Julie 2021) (Foto: Dominic Lipinski/POOL/AFP)

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

annie ·

Die beeld is ongelukkig teleurstellend. Niks herinner aan haar nie. Haar gesig was fyner en lyf meer vroulik. Wie het die opdrag gegee en goedgekeur?

Filistyn ·

Nou waarom is daar n dogter en n seun by haar? Ek verstaan nie die logika daarvan nie .

melaney ·

Stem saam met jou Janine. Die beeld is veronderstel om Diana se liefde vir kinders oor te dra. Dit lyk goed.

isabelle ·

kan nie twee seuns wees nie want Diana was lief vir seuns en dogters alle tipe mense (so gehoor op die radio)

Alta ·

Dit gaan oor wat sy vir alle kinders beteken het daarom ‘n vreemde seuntjie en dogtertjie! Ek is ook teleurgesteld dat dit nie soos Diana lyk nie. Hoop dat die broers sal versoen. Ons tyd op hierdie aarde is min!

Kobus ·

Daar is nog ‘n kind agter haar linkerkant. Dit beeld haar meegevoel met, en belangstelling in kinders uit.

Adriana ·

Dit is vir my ñ teleurstelling, verstaan nie die kinders by haar, so sy dit moes haar en haar 2 seuns dan uitgebeeld het. Ek hoop hul het nou berusting en laat haar in vrede nou rus en dat hul 2 ook hul verskille kon uitsorteer

thejudge ·

Daar is 3 kinders. Een half agter haar en die dogtertjie. Google maar vir fotos wat van die ander kant af geneem is.

Natasha ·

Dis so kosbaar! Ek hoop die broers kan hulle verskille ter syde stel. Haar liefdadigheid word so mooi ten toon gestel.

Karina ·

Teleurgesteld in die standbeeld. Dit lyk nie soos Diana nie. Die kinders is by omdat ‘n kleuterskool onderwyseres was en baie lief vir kinders. Ek sou dink dit gaan oor heer en dat dit meer getroue beeld sou wees.

Danie ·

Die standbeeld se gesigsuitdrukking is te hard.
n Effense glimlag sou die ding doen.
Die logika van die twee kinders is om n simbool te wees van die verskillende flavours wat Diana in haar leeftyd ondersteun het.

Kobus ·

Daar is ‘n derde kind links agter haar. Ek dink die standbeeld is ‘n pragstuk.

Belinda ·

dis n pragtige standbeeld, maar wie is die dogtertjie? Moes mos na regte seker William en Harry gewees het? Dis sad om te sien hoe broers wat so “close”was nou amper vyande is. Eks seker as Diana nog gelewe het, sou sy die twee n goeie pak slae gegee het en hul weer nader aan mekaar gebring het. Lyk my deesdae is almal so selfsugtig dat hul glad nie meer omgee vir hul mede familie lede… is sad regtig…

Catherina ·

Pragtige standbeeld. Tipies Diana. Wys haar liefde en omgee vir almal. Harry moet nou of om vergifnis vir sy familie vra of terug na sy vrou wat alle familie behalwe haar ma , van hulle vervreem. Strange strange lady that!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.