Quebec nou episentrum van Kanadese veldbrande

Rook hang in die lug in Montreal (Foto: Andrej Ivanov/AFP)

Myn- en bosbou-operasies word erg in die Quebec-provinsie in Kanada ontwrig, met 160 veldbrande wat sedert Dinsdag in dié provinsie woed.

Boonop het dié brande moontlik weens nalatigheid ontstaan.

Die Abitibi-Temiscamingue-streek van die provinsie, meer as 650 km noord van Montreal, word die ergste deur die brande geraak.

Francois Bonnardel, die minister van openbare veiligheid in Quebec, sê groot veldbrande van só ʼn verwoestende aard is ʼn ongewone verskynsel in die provinsie.

“Die westelike dele van die land gaan gewoonlik gebuk onder groot veldbrande. Nou is die hele Quebec omtrent in vlamme,” sê Bonnardel.

Inwoners het die reën wat Dinsdagmiddag in dele van die provinsie begin uitsak het, verwelkom. Gevolglik kon sowat 4 400 inwoners wat die gebied moes verlaat, weer na hul huise in die noordelike stad Sept-Iles, aan die oewer van die St. Lawrence-rivier, terugkeer.

“Die veldbrande in die verre noorde van die provinsie sal egter weke neem om heeltemal in bedwang gebring te word.”

Quebec het altesame 424 veldbrande sedert die begin van die lente aangeteken; dit is meer as dubbel die gemiddelde jaarlikse getal veldbrande oor die afgelope dekade.

Rook en roet

Nadat groot veldbrande in die weste van die land in Mei opgevlam het, verál in die Alberta- en Saskatchewan-provinsie, het brandbestryding die afgelope paar weke na Nova Scotia, aan die Atlantiese kus verskuif, voordat brandbestrydingspanne na Quebec gestuur is.

Tientalle brande woed steeds in die weste van die land, waaronder 62 in Alberta, 76 in die mees westelike Brits-Columbië en 24 in Saskatchewan.

Sowat 100 brandbestryders van Frankryk sou teen Vrydag aanmeld om te help om die Quebec-veldbrande te bestry. Hulle sal werk saam met sowat ʼn duisend brandbestryders van Australië, Mexiko, Nieu-Seeland, Suid-Afrika en die Verenigde State wat ook hand bysit met brandbestrydingspogings.

Die Kanadese hoofstad Ottawa was Dinsdag in ʼn rookwolk gehul en die lug bokant Montreal en Toronto was donker. Die owerhede het inwoners gevra om buitemuurse aktiwiteite te beperk en gesê die rook sal waarskynlik vir nog ʼn paar dae in die lug hang.

Inwoners kla ook dat roet oral in hul huise en op hul meubels neergesak het.

Volgens Abe Bourgi, inwoner van Ottawa, het hy wakker geword met ʼn gelerige waas wat oor die stad hang. Hy vertel die son het ook ʼn diep oranje kleur gehad.

“Die reuk van rook is baie sterk,” het hy vertel.

“Baie mense dra maskers op straat en jy moet die deure en vensters toemaak anders ruik jou woonstel soos ʼn asbak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Waarom ·

Brandbedtryders van Suid Afrika. Laas keer het hulle gestaak vir meer geld in Kanada. Kan nie glo hulle is alweer daar nie.

Kobie ·

Omdat hulle uitgebyt was. Hulle het $50 per dag verdien terwyl Kanadese brandbestryders $25 per UUR verdien het. Ek sou ook staak!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.