Rafah-offensief kan skeur tussen Israel, VSA vergroot

Benjamin Netanyahu, premier van Israel. (Foto: Abir Sultan/Pool Photo via AP)

Te midde voortslepende geweld in Gaza het die VSA homself soos nog nooit tevore van sy bondgenoot Israel gedistansieer. Kenners meen die skeur tussen dié lande kan egter verder vergroot indien Israel nie ag slaan op die VSA se waarskuwings teen ʼn aanval op die digbevolkte stad Rafah nie.

Maroela Media het vroeër berig dat gevegte tussen Israelse troepe en die Palestynse terreurgroep Hamas verlede week ook in dié suidelike stad voortgewoed het.

Hoewel pres. Joe Biden Saterdag gesê het dat die VSA Israel nooit sal versaak nie, het hy wel benadruk dat daar “sekere rooi lyne is wat Israel nie in sy oorlog in Gaza moet oorskry nie”.

Die VSA het oor die afgelope weke ook toenemend kritiek teenoor sy bondgenoot – en in besonder premier Benjamin Netanyahu van Israel – se benadering tot die oorlog uitgespreek. Die VSA is ook bekommerd oor die ernstige humanitêre krisis wat al verder in Gaza uitkring.

Israel is boonop woedend nadat die VSA Maandag buite stemming gebly het toe ʼn resolusie deur die Verenigde Nasies (VN) se Veiligheidsraad ter tafel gelê is. Al 14 ander lede van die Veiligheidsraad het ten gunste van die resolusie gestem en dit is gevolglik aanvaar. Dit eis onder meer ʼn onmiddellike en blywende skietstilstand vir die maand van Ramadan wat ook tot ʼn volhoubare wapenstilstand moet lei.

Netanyahu het in die lig hiervan ʼn afvaardiging na die VSA uitgestel om dié land se bekommernisse oor Rafah te bespreek.

‘VSA moet wapenkrane toedraai’

Nietemin het Biden vroeër gesê dat die VSA nie van plan is om militêre bystand aan Israel te sny nie. Dit is immers die VSA se grootste houvas op Israel.

Joe Biden, Amerika se president. (Photo by Jim WATSON / AFP)

Sommige waarnemers meen dit is juis invloed soos dié wat die VSA moet gebruik indien hy werklik wil hê dat Israel sy wapens in Gaza neerlê.

Annelle Sheline, wat onlangs uit protes uit die Amerikaanse departement van buitelandse sake bedank het, sê aksies soos die resolusie en planne om dringend noodhulp aan Gaza te verskaf, kom eindelik net op reklamefoefies neer.

“Ek kan net hoop dinge begin werklik verander. Ongelukkig sien ek nog nie dat die VSA juis sy invloed gebruik om steun vir Israel se militêre operasies te beëindig of te onttrek en die wapenkrane toe te draai nie,” het sy aan AFP gesê.

Michael Singh, besturende direkteur van die Washingtonse instituut vir Nabye-Midde-Oosterse beleid, ʼn beleidsorganisasie in die VSA, stem saam dat wapenbeperking ʼn baie sterker impak (strategies en polities) sal hê as ʼn resolusie wat geen tasbare invloed het op Israel se vermoë om konflik te voer nie.

Israel het voorheen gesê dat geweld sal voortduur totdat Hamas in geheel vernietig is. Die oorlog in Gaza het uitgebreek nadat Hamas-vegters op 7 Oktober verlede jaar ʼn aanval op die suide van Israel geloods het en meer as 1 400 burgers om die lewe gebring het.

Volgens Gaza se gesondheidsdepartement is 32 333 Palestyne nou al in die oorlog dood van wie die meeste vroue en kinders is.

’n Gebied in Gaza ná verskeie lugaanvalle deur Israelse magte. (Foto: Verskaf)

Hamas hou steeds meer as 100 Israelse gyselaars aan terwyl Israel duisende Palestynse gevangenes in aanhouding het.

VSA-steun neem af, ‘wrywing’ dalk goed

Die VSA het Israel herhaaldelik teen aanvalle op Rafah gewaarsku waar meer as 1,4 miljoen Palestyne tans skuiling neem. Netanyahu het egter gesê Israel sal met aanvalle in dié gebied voortgaan.

Amerikaanse amptenare het gesprekke met Israel versoek en gesê die land sal alternatiewe vir die Israelse afvaardiging bied om Hamas-teikens te tref terwyl burgerlike ongevalle beperk word.

Stephen Wertheim, ’n senior genoot by die Carnegie Endowment for International Peace, sê dié aanbod dui duidelik aan dat die VSA ʼn militêre operasie in Rafah verwag en probeer om die skade van daardie operasie te beperk.

’n Gallup-peiling wat Woensdag uitgereik is, dui aan dat slegs 36% van Amerikaners Israel se optrede goedgekeur. In November verlede jaar het dié persentasie op 50% gestaan.

Wertheim meen egter dat Israel en die VSA by afstand tussen die twee lande kan baat – veral in die lig van komende verkiesings.

Biden is ʼn lewenslange ondersteuner van Israel, maar moet ʼn taai herverkiesingsgeveg in November trotseer. Woede van die linkses oor die voortslepende geweld in Gaza is veral tasbaar in Biden se Demokratiese Party.

Netanyahu veg op sy beurt ook vir sy politieke loopbaan aan die stuur van ʼn verregse koalisie. Netanyahu het boonop al verskeie kere koppe met Demokratiese presidente gestamp en hom in sy loopbaan tot ʼn groot mate by die Republikeinse Party geskaar.

“Beide Biden en Netanyahu baat daarby om ʼn mate van wrywing tussen hulle te hê,” het Wertheim gesê.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Adriaan ·

Ireland is to seek to widen the definition of genocide to include blocking humanitarian aid in a landmark international court of justice (ICJ) case against Israel.

The Irish government will intervene in the case taken by South Africa and argue that restricting food and other essentials in Gaza may constitute genocidal intent, the foreign minister Micheál Martin said on Wednesday.

“We believe there is a case, given how this war has been conducted,”

Jacobus ·

Wat van hamas laat eers alle gyselaars vry en onderhandel dan nie. Hierdie oorlog is mos nie net eensydig nie.

Vrijburger ·

Mmm wapenshulp aan Isreal staak om hulle te dwing om millitêre aksies te beëindig?
Dan is die anderkant van die munt sekerlik die staak humanitere hulp aan Gaza tot al Isrealse gyselaars brygelaat is?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.